Kunsmatige intelligensie (AI) is die nuwe gonswoord wat wêreldwyd opvlam en mense aan die praat het.
Toepassings soos ChatGPT en BingChat is verlede jaar vrygestel en is besig om die tegnologiese landskap by die dag te verander.
ChatGPT is ’n toepassing wat deur OpenAI gebou en geskryf is. Deur die GPT-taalmodel te gebruik, kan dit jou vrae beantwoord, inhoud skryf, e-posse opstel, ’n gesprek voer, webkode in verskillende programmeertale verduidelik, natuurlike taal na webkode vertaal, en meer – alles geskoei op die gesprek wat jy met die toepassing voer.
Dr. Antoinette van der Merwe, senior direkteur vir leer- en onderrigverryking by die Universiteit Stellenbosch, het bevestig AI is hier om te bly en studente gaan al hoe meer daarvan gebruik namate dit verbeter. Sy het die “vlug- of veg”-reaksie beskryf wat baie akademiese inrigtings in reaksie op ChatGPT het. Sy het gesê sommige universiteite het reeds hierdie tegnologie verban.
“Ander sal probeer om dit te probeer uitoorlê of dit probeer ‘uitvang’ en probeer om beter opsporingsagteware in werking te stel. Ek dink dit is ’n natuurlike reaksie op hierdie opskudding. Hedendaagse studente moet voorbereid wees op ’n toekoms waarin skryf met AI reeds besig is om noodsaaklik te word. Net soos woordverwerkingfunksies soos spel- en taaltoetsers aanvaarbaar geword en by skryfpraktyke geïntegreer is, gaan dieselfde met teksskeppers gebeur. Ek redeneer dus ons moet onderrig, leer en assessering heroorweeg, herbedink en herfokus sodat ons ons gegradueerdes met die nodige vaardighede kan toerus om verantwoordelik met AI om te gaan,” het Van der Merwe gesê.
Die ChatGPT-verskynsel is deur die nuut-aangestelde voorsitter van die departement joernalistiek, prof. Herman Wasserman, bekendgestel.
Hy het sommige van die etiese dilemmas aangeraak waaraan die gewilde, nuwe kunsmatige-intelligensie-tegnologie die media en die akademiese landskap blootstel.
Netelige vrae wat met plagiaat, privaatheid, sensuur, regverdigheid en kunsmatige intelligensie (AI) se invloed op ongelykheid verband hou, is ook deur deelnemers geopper.
“Hoewel dit ietwat van ’n cliché is dat ons studente oplei vir beroepe wat nog nie bestaan nie, is dit skrikwekkend wanneer ons in ag neem dat die joernalistiekstudente wat vanmiddag hier sit, miskien aanstaande jaar, wanneer hulle tot die werksmark toetree, met persverklarings te doen sal kry wat deur ’n kletsbot uitgeryg is wat nie verlede jaar hierdie tyd bestaan het nie,” het Wasserman gesê.
Hul meen egter hierdie gaan nie net ’n uitdaging by universiteite voortbring nie, maar ook in verskeie bedrywe.
Prof. Bruce Watson van die sentrum vir AI-navorsing in die skool vir datawetenskap en rekenaardenke en wat homself ’n AI-optimis noem, het verduidelik hoe die kunsmatige intelligensie agter ChatGPT presies werk.
Volgens hom is dit moeilik om die uitwerking wat ChatGPT op ons alledaagse lewe gaan hê, te oordryf.
“Dit is egter belangrik om te onthou dit is nie ’n wese met bewussyn nie en het ook geen hoop om te wees nie. Dit is net ’n massiewe model wat kan voorspel wat die volgende woord moet wees op grond van wat dit geleer het. Dit het geen gevoelens, oorspronklike gedagtes of kapasiteit vir outentieke terugvoer nie.
“Maar die implikasie is steeds enorm. AI is reeds buitengewoon vaardig in die skryf van kort grepe en in die skep van werkende programme en skadelike programmatuur soos rekenaarvirusse.”
Twee navorsers van Research ICT Africa, dr. Scott Timcke en Zara Schroeder, het saam ’n aanbieding gedoen oor die implikasies van AI vir ’n land soos Suid-Afrika, waar ongelykheid en ekonomiese uitsluiting steeds groot hindernisse is. “Geen tegnologiese produk is neutraal nie,” het Timcke gesê.
Hoewel AI die potensiaal het om ’n instrument te wees wat bekostigbare opvoedkundige, mediese en regsinligting en advies aan die armes kan verskaf, sal die maksimalisering van wins waarskynlik sosiale beskerming troef, het hy gesê.
Die keersy van sulke tegnologiese vooruitgang is dat slegs ryk mense in die toekoms dalk toegang tot menslike spesialiste sal kan hê, terwyl die armes op masjien-gegenereerde kundigheid sal moet staatmaak.




