Zoëy McQuire van Malmesbury se pad na die sterre lyk al blinker nadat sy onlangs in haar eerste Speeltoneel-kortfilm, Danshart, verskyn het.
McQuire, ’n leerder aan die Christelike Privaatskool Malmesbury (CPM), het haar droom om eendag ’n aktrise te word, op agtjarige ouderdom amptelik begin toe sy in Januarie verlede jaar vir ’n oudisie genooi is om moontlik in een van verskeie kortfilms op DStv kanaal 147 te verskyn. Om destyds vir ’n moontlike rol in aanmerking te kon kom, het ABC Produksies vereis dat sy ’n filmkursus, aangebied deur Speeltoneel, voltooi
Die kursus was egter nie goedkoop nie en haar ouers, Tim en Saskia McQuire, het omtrent gewoeker om genoeg geld in te samel sodat sy die kursus kon volg.
Haar ouers is vandag ongelooflik dankbaar vir elkeen wat tot die kursusgeld bygedra het.
Die kortfilm Danshart het verlede Saterdag die eerste keer op die kassie verskyn nadat skietwerk op 22 Augustus verlede jaar begin het.
Zoëy, wat die afgelope Sondag haar tiende verjaarsdag gevier het, vertolk die rol van Inge.
“Dit was ’n ongelooflike ervaring vir haar,” vertel haar ma. Volgens Saskia het hul dogter hulle omtrent verbaas, omdat sy die rol met soveel selfvertroue aangepak het.
Hoewel geen nuwe geleenthede intussen sy verskyning gemaak het nie, staan haar ouers bankvas agter hul sonskynkind se drome. “Ons het baie terugvoering van die publiek en familie gekry. Sy het almal verbaas en almal is trots op haar,” vertel Saskia.
Nie veel het intussen verander nie. Zoëy is steeds passievol oor toneelspel en vermaak haar ouers nog gereeld in die huis. “Ons glo sy gaan nog groot hoogtes bereik.”





