“My plan is om ’n speler of twee van Worcester saam met my oorsee te neem. Ek wil hê hulle moet ervaar wat dit is om in Engeland krieket te speel”.
Dít is die woorde van die Montagu-boorling Adrian du Toit, ’n jongman wat besig is om hom in die krieketwêreld te vestig.
Alles het op ’n vroeë ouderdom in die strate van Ashton begin. Toe Adrian se portuurgroep dit moeilik gevind het om krieket goed te kan speel, was hý die een wat dit maklik laat lyk het.
Gelukkig vir hom het dit nie hier geëindig nie. Hy het sedertdien hard gewerk en goed presteer..
Op skool het hy elke jaar in die Bolandspan gespeel en hy is deur die Hoërskool Paarl Gimnasium raakgesien, wat hom ’n beurs aangebied het om sy skoolloopbaan daar voort te sit. Hy het die geleentheid met albei hande gegryp.
Ná skool het Adrian net nog verder geblom en hy het op universiteitsvlak erekleure aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) as gevolg van sy deelname aan die universiteitskrieketspan verwerf.
“ ’n Agent het my direk ná my studies genader en my die geleentheid gebied om in Engeland [vir die Friarmere-krieketklub] te gaan speel,” vertel ’n doelgerigte Adrian.
Dié jong speler, wat tans in Brandvlei in Worcester woon, het die oorsese span geweldig met sy spel en vermoë om by ander se kultuur aan te pas, beïndruk.
As dit nie vir die Covid-19 pandemie was nie, sou hy nog verder gevlieg het, maar dit was hom nie beskore nie.
Adrian is egter verlede jaar vort om sy appeltjie in Engeland verder te gaan skil.
Hiér het hy meer as 1 000 lopies aangeteken en oor die 60 paaltjies laat kantel.
Dit het nege klubs van Engeland aan sy deur laat klop, maar hy het besluit om aan sy eerste klub lojaal te bly, en hy keer in April 2023 terug.
“Ek het baie doelwitte – wat studies sowel as krieket betref.
“Ek het onlangs saam met die Paarl Royals geoefen. Dis nou internasionale krieketspelers.
“Die ervaring was ongelooflik, maar dit is nie waar ek dit sien eindig nie. Ek wil vir die grootste krieketspan in die Wes-Kaap – die Paarl Royals – speel. Dis my doelwit vir 2023,” vertel die energieke Adrian. . Adrian het die geleentheid gehad om van April tot September 2022 in Engeland te gaan speel.





