Adv. Cindy Abdol spreek die mense toe oor geslagsgebaseerde misdaad tydens ’n inligtingsessie wat deur die ACVV van Montagu gereël is. Sy het onder meer ook die – veral hoe minderjarige kinders in howe getuig – noukeurig verduidelik. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) van Montagu het verlede Woensdag (24 Mei) ’n inligtingsessie oor geslagsgebaseerde misdaad op die vooraand van kinderbeskermingsweek (28 Mei tot 4 Junie) by sy kantoor in Tannerstraat, Montagu, aangebied.

’n Aansienlike groep mense, van wie ’n groot deel uit die Ashburywoongebied, het die saaltjie by die ACVV-kantore volgepak.

Pastoor Danny Janse van Ashton het die geleentheid met gebed geopen en uit die Woord, Genesis 18 vers 19, gelees, waarna hy die aanwesiges met ’n kort boodskap bedien het.

Daarna het verskeie sprekers opgetree.

Nigel Adams, die hoof van W.A. Rossouw Primêr, het oor afknouery in skole gepraat, maar ook daarop gewys dat afknouery dikwels “in ons ouerhuise ook voorkom, waar ‘streng kinders’ aan ‘gehoorsame ouers’ voorskryf wat en hoe dinge gedoen moet word”.

Tydens die spreekbeurt van advokaat Cindy Abdol, hofsakebestuurder by die Worcester Thuthuzela Care Centre, het sy reguit en op die man af oor die voorkoms, aard en gevolge van geslagsgebaseerde misdaad gepraat, en die mense het behoorlik aan haar lippe gehang.

Sy het onder meer ook die hofprosedure – veral hoe minderjarige kinders in howe getuig – noukeurig verduidelik. Verder het sy genoem dat sake van dié aard nie goedsmoeds sonder aanvaarbare redes teruggetrek word nie.

Voorts het sy gesê getuies wat op die wetlik voorgeskrewe wyse gedagvaar is om in ’n hof te getuig, op getuie-fooie en selfs hul dag se loon – dié wat werk – geregtig is.

Abdol het verder baie belangrike inligting oor wetswysigings met die aanhoorders gedeel.

Sy het genoem dat die Wet op Gesinsgeweld, die Kinderwet sowel as die Wet op seksuele misdrywe, onlangs gewysig is deurdat ’n bepaling rakende die plig tot aanmelding by hierdie wette gevoeg is.

Dit kom daarop neer dat ’n regsplig op diegene rus aan dié by wie ’n misdaad in verband met bogenoemde wetgewing aangemeld word.

Dié mense by wie die voorval aangemeld is, word nou wetlik verplig om die misdaad by die polisie aan te meld.

Edlyn Willemse van die departement korrektiewe dienste se Gemkor-afdeling by die Robertson- korrektiewe sentrum was hierna aan die woord. Sy het meer lig gewerp op die hantering en bestuur van gevonniste misdadigers op parool en mense onder korrektiewe toesig. Sy het ook kortliks na die paroolaansoekprosedure verwys.

Voorts het Willemse ook benadruk dat mense wat gevangenisstraf uitdien, nie vir ewig in korrektiewe sentrums aangehou word nie en dat ’n tyd aanbreek wanneer hulle weer in hul onderskeie gemeenskappe vrygelaat sal word.

Die verrigtinge is deur twee lede van die plaaslike polisiediens – sers. Igshaan January (beskermingsbevele) en konst. Esmarelda Philander (sosiale misdaadvoorkomingsbeampte) afgesluit.

January het verduidelik dis sy taak om beskermingsbevele op die respondente (oortreders) te beteken, maar het ook genoem van probleme wat die polisie se taak bemoeilik. Hy het voorts gesê gesinsgeweld is ’n bose kringloop wat slegs hokgeslaan kan word indien mense uitpraat en voorvalle by die polisie aanmeld.

Philander het op haar beurt grootliks op die polisie se slagofferbemagtigingsprogram en die traumakamer by die polisiekantoor gefokus. Sy het onder meer gesê die publiek is verkeerdelik onder die indruk dat die traumakamer slegs vir slagoffers van seksuele misdaad is. Dit is vir alle misdaadslagoffers, het sy benadruk.

Met die aanvang van die inligtingsessie het die mense ’n heerlike koppie warm sop en ná die verdaging ’n lekker wegneemmiddagete ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article