Marlene Milford in haar tuin, wat sy met trots bearbei.Foto’s: Anan Jacobs


Talle huise in Abbotsdale pronk met pragtige tuine, en met die somer wat nader wink, word ekstra aandag en liefde ingespan om die tuine groter en mooier uit te bou.

Marlene Milford, ’n inwoner van Kloofstraat, Abbotsdale, sê sy het van jongs af by haar oupa en ouma geleer hoe om ’n groentetuin volledig uit te lê.

“My oupa was destyds welbekend in Abbotsdale vir sy groentetuin, waaruit hy aan die gemeenskap teen ’n billike prys en die beste gehalte [groente] verkoop het,” onthou Milford.

Volgens haar het sy as kind altyd gehelp om sade van ertjies, boontjies en al wat ’n groentesoort was, te plant.

Deesdae kweek Milford en haar ma ’n groot verskeidenheid groente, soos beet en kool, maar hul tuin pronk ook met Namakwalandse madeliefies (daisies) en laventel.

“Ek en my ma is tuinmense – enigiets wat ons plant, groei,” skerts Milford.

Nog ’n inwoner, Linda Sedeman, die wenner van die Swartland Household Food Garden Competition 2022, sê sy het sowat 10 jaar gelede met tuinmaak as ’n stokperdjie begin.

Sedeman sê sy het haar weens werkloosheid die afgelope vyf jaar egter voltyds aan haar groentetuin gewy.

“Ek plant verskillende soorte groente en kruie, maar in die winterseisoen kweek ek groente soos veral kool, uie, blomkool, broccoli, spinasie, beet en aartappels,” sê Sedeman.

“Verder maak ek ook saailinge op grootmaat, wat ek verkoop, en in die somer kweek ek tamaties, groenrissies, pampoen en skorsies,” verduidelik sy.

Sedeman sê haar daaglikse roetine is om die onkruid gereeld te verwyder, die grond nat te gooi en na die plante se welstand om te sien.

Volgens Sedeman doen sy deeglike beplanning oor wat sy gaan plant, wanneer sy dit gaan plant en hoeveel water sy gaan benodig.

“Water is lewe en ’n mens moet dit altyd spaarsamig gebruik,” maan sy.

“Die tuin is ongeveer 2 500 m² groot, maar ek plant in hierdie stadium nie op die hele grond nie. Die plan is om volgende winter die hele plek vol te plant.

“Op die oomblik het ek dit in beddings verdeel, wat dit baie maklik maak om groente te plant,” sê sy.

Doreen Koopman, ’n inwoner van Winkelstraat, Abbotsdale, sê sy het gedurende vlak 5 van die Covid-19-inperking met haar groentetuin gratis maaltye aan die meeste behoeftige inwoners van Wesbank voorsien.

“Toe die Covid-19-inperkingmaatreëls opgehef is, en ’n paar mense se lewenstandaard verbeter het, het ek met my groentetuin ’n onderneming begin,” sê sy.

Volgens Koopman bestaan haar 1200 m²-tuin uit spinasie, boerenkool (kale), boerbone, knoffel, beet en kruie.

“My hoofdoel vir die groentetuin is om mense in my gemeenskap bewus te maak om gesonder te eet en ’n goeie leefstyl te hê,” sê Koopman.

Koopman sê verskeie plante kan die liggaam help om siektes te bestry, soos koljander.

“Koljander bevat ’n groot hoeveelheid antioksidante, wat net soos knoffel as goeie natuurlike antibiotika gesien word,” sê sy.

“’n Spesifieke plant wat ek graag op groot skaal wil plant, is sonneblom,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article