Luyanda Ntwana (3de plek), Surprice Khoza (1ste plek) en Xolani Loni (2de plek), was die bestes in die 7 km-afdeling.Foto’s: Anan Jacobs


Inwoners van Chatsworth, Abbotsdale en Ilingelethu het Saterdagoggend (6 Augustus) aan die 5 km- en 7 km-pretdraf by die Abbotsdale-sportterrein deelgeneem.

Shidwell Booisen, die stigter, sê die doel van die dag was om jong mense in die gemeenskap te help rehabiliteer.

Pryse vir die wenners in die eerste, tweede en derde plek in al die afdelings is uitgedeel.

Surprice Khoza, ’n inwoner van Ilingelethu (fase 2), was die wenner van die 7 km-afdeling nadat hy die wedloop in 24 minute voltooi het.

Volgens Khoza het hy sommer, terwyl hy vir die ander atlete gewag het, besluit om vir ’n tweede keer sy 7 km-afstand te doen.

“Ek het met die ander atlete opgevang en hulle in die hardloop aangemoedig om nie op te gee nie. Ek het hulle ondersteun en gesê hulle moet die wedloop klaar hardloop, al stap hulle. Ek het só seker gemaak hulle voltooi die roete,” het Khoza gesê.

Sodick van Schalkwyk (16), ’n inwoner van Chatsworth en ’n leerder aan die Schoonspruit Sekonder, was die wenner van die 5 km-afdeling. “Dit was moeilik om kop te hou met só lang afstand, maar ek het aan almal bewys ’n mens kan met genoeg oefening en ’n gesonde leefstyl sukses in atletiek bereik,” het hy dit opgesom.

Booisen sê nie net jong mense het aan die pretwedlope deelgeneem nie, maar ook ouers uit die gemeenskap.

Hy het sy familie en die pretwedloop se organiseerders, wat die dag ’n sukses vir alle inwoners van Abbotsdale, Chatsworth en Ilingelethu se gemeenskappe gemaak het, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article