Parker Kriel het in 1982 ’n slaghuis in Darling gekoop. Vandag vier Darling Vleismark (Darling Meat) vier dekades van sukses. Parker (84) en sy seuns, Stephen en Kevin Kriel, kyk met trots terug, maar ook met groot opgewondenheid na ’n toekoms waarop hulle kan voortbou én voort kan gaan om die beste diens en produkte na hul klante te kan bring.
Die plaaslike gemeenskap loop ook behoorlik oor van trotse klante wat nie uitgepraat kan raak oor hul gunsteling-slaghuis nie. Almal stem vir seker saam dat uitstekende en vriendelike diens die norm van die dag by Darling Vleismark is.
Gehalte, uitstekende reputasie, professionaliteit en goeie, vriendelike diens was die eerste woorde wat by die jare lange klant en inwoner Riaan Neethling opgekom het toe hy ’n beurt kry om met hul dorp se slaghuis te spog.
Pam Woodfine het op haar beurt gesê Darling Vleismark is eenvoudig die beste. “Ek was nog nooit teleurgesteld nie.” Sy voeg by ’n mens kry waarvoor jy vra, maak nie saak hoe spesifiek die versoek nie.
Liam Hartley beskryf die slaghuis as ’n family one-stop shop. Hy sê buiten al die tjops -en worsprodukte, is unieke en interessante vleisprodukte ook altyd beskikbaar. Hartley stem saam Darling Vleismark stap die ekstra myl om klante gelukkig te hou. Hy het 40 jaar gelede as kind saam met sy gesin na Darling toe getrek. Daardie persoonlike diens wat in die verlede daar was, is vandag steeds daar, voeg hy by.
Estelle Maart wens Darling Vleismark baie geluk en bedank hulle vir die puik diens. Sy voeg by die vriendelike personeel staan altyd reg om klante te bedien.
Volgens Lizanne Papier koop sy en haar familie graag daar. Sy wens ook die Kriel-familie geluk met hul jare lange sukses en wens hulle ook hope sukses vorentoe. “Jul produkte is van die beste gehalte,” voeg sy by. Essie Papier sê dit is altyd lekker om by die slaghuis in te loop. Sy is veral versot op hulle wors-produkte. Papier bedank die personeel vir hul vriendelike diens.
Jo-Dine Scheaffers, wat voorheen daar gewerk het, sê vars produkte word daagliks gemaak. “Klante het baie van hul boerewors gehou. Indien klante ontevrede was, gee die eienaar altyd iets beter.” Scheaffers sê sy kan onthou mense het altyd van ver gekom om daar te koop. Vandag staan die slaghuis se netheid steeds vir haar uit.
Amanda en Andreas Schonefeldt vertel hoe lekker die slaghuis se kerrie-sult is. Hulle is dit eens dat Darling Vleismark die beste slaghuis is. “Ons voel soos familie as ons daar instap. Dankie vir jul uitstekende diens.”
Vir Roy Adcock kom uniekheid, familie- en ’n gemeenskapsbenadering na vore wanneer hy aan die slaghuis dink.
André en Christelle van der Vyver beskou 40 jaar as ’n groot mylpaal. “Ons waardeer jul puik produkte en puik diens. Die biltong-steak is die beste.”
Die plaaslike tehuis vir bejaardes, Huis Groeneweide, en Darling Vleismark is al 40 jaar deel van mekaar se bestaan.
“Vir 40 jaar is die slaghuis al ons grootste verskaffer,” vertel die bestuurder, Sandra de Beer. “Darling Vleismark staan altyd reg om te help met die tehuis se jaarlikse geldinsamelingsprojek, ons worsprojek. Ons kan hulle enige tyd bel vir enigiets, en hulle sal dit vir ons gereed kry,” voeg sy met dankbaarheid by.
“Ons inwoners kan nie ophou spog met Darling Vleismark nie,” sluit Hannalie Neethling af.



