Een van die jongspan wie se gesig geverf is tydens die pret en plesier by die Jeugdagviering by die Ashbury Primêr-sportterrein. Foto’s: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

MONTAGU – Die Montagu-gemeenskapsforum het verlede Donderdag (16 Junie) in samewerking met ander nieregeringsorganisasies, die polisie, die ACVV Montagu, ’n veiligheidsmaatskappy en ander sakeondernemings in die dorp saamgespan en ’n Jeugdagviering op die sportterrein by Ashbury Primêr aangebied.

Die Jeugdag-saamtrek is deur Calvin Pekeur, die voorsitter van die gemeenskapsforum, gereël.

Verskeie sprekers het by die geleentheid opgetree en byna almal het grootliks gefokus op geleenthede wat vir die jeug geskep moet word ten einde hulle te bemagtig, te ontwikkel en hulle ekonomies selfstandig te maak.

Lt.kol. Gerrit Wewers, stasiebevelvoerder van die plaaslike polisiekantoor, het spesifiek melding gemaak van geleenthede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy het genoem talle vakatures vir nuwe rekrute is by die polisie beskikbaar.

Hy het verder gesê jeugdiges kan selfs by die buurtwag en slagofferbemagtigingskamer as vrywilligers betrokke raak.

Bronwin Pekeur, kantoorbestuurder van die Montagu-landdroskantoor, het in haar spreekbeurt ook melding gemaak van vakatures wat daar beskikbaar is en in sekere gevalle slegs ’n matrieksertifikaat vereis word. Maar, het sy voorts gesê, kinders moet eerstens aan hul ouers en onderwysers gehoorsaam wees en skool getrou bywoon.

Pastoor Jannie Hoffman het op sy beurt die jongspan van die primitiewe leefwyse van die Khoisan jare gelede vertel. Hy het selfs gedemonstreer hoe askoeke gemaak en gebak is.

Werkers van ’n baie gewilde vakansiebestemming in die dorp het die kinders geleer hoe om potplanthouers te verf vir ’n moontlike bron van inkomste.

Berenice Pekeur-Jacobs van die ACVV Montagu het die kindermishandeling-kwessie aangeraak en ook oor kinderregte gepraat.

Dit was egter nie net ’n dag van toesprake nie – hope pret en plesier was ook op die program.

Die jeug het rugby gespeel, gedans en gedigte voorgedra. Kinders se gesigte is geverf en jong rymkletsers het die ander met hul talente vermaak. Verder het ’n jeug-sanggroep toneelopvoerings en sang aangebied.

Pekeur het sy opregte dank teenoor almal wat deel van die beplanning van die dag was, uitgespreek.

Daarbenewens het hy ook elke borg, onderneming en skenker vir hul bydrae om die dag moontlik te maak, bedank.

Volgens Pekeur was dit ’n reusesukses.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article