Petro Meyer, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se sweminstrukteur en ’n plaaslike inwoner, leer die leerders van Meiring Primêr in Riebeek-Kasteel oor waterveiligheid in die instituut se heel eerste Oorlewing-swemsentrum. Van links is Jennifer Martin (14), Cee-Jay Snyders (12) en Jo-Nay Williams (14). Argieffoto: Andrew Ingram/NSRI


Ná 2 000 swemlesse kan die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) met trots sê sy eerste Oorlewing-swemsentrum het gewis vrugte afgewerp.

Die NSRI het dié swemsentrum, die eerste van sy soort, in Maart vanjaar in Riebeek-Kasteel bekendgestel. Die inisiatief is daarop uit om die groot verdrinkingsyfer in die land te takel deur kinders wat nie noodwendig toegang tot swemgeriewe het óf swemlesse kan bekostig nie, te leer swem.

Die bestuurder van die instituut se Drowning Prevention-inisiatief, Andrew Ingram, het bevestig dat die Oorlewing-swemsentrum by die Meiring Primêre Skool, baie goed vaar. Die eerste 11 leerders wat aan die projek deelgeneem het, het onlangs sertifikate ontvang nadat hulle die kursus suksesvol voltooi en die vier hoof-oorlewingsvaardighede aangeleer het.

“Dit beteken hulle het geleer hoe om hul asemhaling te beheer, sowel as oriëntasie, om te dryf en om vyf meter ver deur water te beweeg,” verduidelik Ingram. Die Oorlewing-swemsentrum behels ’n 12 meter lange skeepsvraghouer, wat mobiel is. Die skeepsvraghouer huisves ’n ses meter lange swembad van een meter diep om te verseker dat jonger kinders gemaklik daarin kan staan. Die sentrum het verder ’n kantoor vir die sweminstrukteur, asook aantrekfasiliteite. Danksy die aard van die skeepsvraghouer, kan toegang tot die swembad nie verkry word wanneer swemlesse nie aangebied word nie.

Soos die meeste eerste inisiatiewe, was dié projek nie sonder sy uitdagings nie. Die eerste was om die watergehalte te behou, asook verhitte water in die wintermaande. Die tweede uitdaging was om leerders betyds by die swemlesse te kry om by die skedule te hou.

“Die samewerking van die skoolhoof, Brenton Cupido, en die personeel van Meiring Primêr was ongelooflik,” sê Ingram. Twee assistent-onderwysers is beskikbaar gestel om seker te maak die leerders kom betyds by die sentrum en word weer afgehaal. Dit het die sweminstrukteur, Petro Meyer, en haar twee deeltydse instrukteurs die geleentheid gegee om in die swembad te bly en lesse seepglad te laat verloop, vertel hy met trots.

Wat die instituut egter nie aan die begin in ag geneem het nie, was basiese benodigdhede, soos handdoeke en geskikte swemkostuums, waaroor leerders nie noodwendig beskik het nie. Ingram en sy span het intussen handdoeke bekom en werk nog aan die beskikbaarstelling van swemklere.

Die tweede Oorlewing-swemsentrum word gebou en ’n derde word beplan. Die plan is om een in KwaZulu-Natal op te rig en nog een in die Oos-Kaap, waar verdrinkingsyfers ook hoog is.

Ingram voeg by dat almal wat tot die projek bygedra het, besonders was deur hul tyd en kennis gratis aan te bied. Hy kon met oortuiging sê alle betrokkenes glo nie net in die projek nie, maar ook aan die instituut.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article