Cleve Malgas, heelagter van die Montagu-rugbyklub, val sterk aan. Lincoln Pasquallie (slot) en Corné Geduld van Villagers (stut) probeer hom stuit. Foto: Rhonwen Fluks

Credit: SYSTEM

MONTAGU – Dit is Saterdag 18 Junie – ’n koue, nat bewolkte middag.

Die King Edward-sportterrein is stampvol gepak; die toeskouers in dik winterklere toegewikkel om die snerpende koue uit te hou.

Die pawiljoen en terrein om die veld is in blou, wit en rooi getooi – die tradisionele kleure van die Montagu-rugbyklub, die gasheer, en Montagu Villagers, sy buurman.

Om ongeveer 16:07 kom die spanne onder groot toejuiging van hul ondersteuners uitgedraf. Villagers vorm aan die een kant van die veld ’n kringetjie en kniel op die gras met geboë hoofde, terwyl Montagu se spelers in groepies van twee, drie en meer dieselfde ritueel uitvoer.

Jabian Jephta, die skeidsregter van Worcester, lig sy linkerhand en blaas hard op sy fluitjie om die veelbesproke derbywedstryd aan die gang te sit.

Montagu skop af en die Grootuitdaagbekerwedstryd neem ’n aanvang. Villagers vang die bal, maak dadelik kragdadig kontak, en so begin die langverwagte derbywedstryd op ’n baie fisieke noot.

Die wedstryd is skaars vyf minute oud toe Villagers geleentheid kry om punte aan te teken nadat Montagu vir onkantspel gestraf is. Die strafskop pale toe is egter links verby.

Na sowat tien minute se spel is dit Montagu wat die telbord aan die gang sit en voorloop met 7-0 ná ’n verdoelde drie.

’n Paar minute later slaag Villagers met ’n strafdoel toe Montagu vir ’n skrumoortreding gestraf word ná ’n sterk skrum deur die wit-en-rooi-agttal. Die telling word 7-3.

Punte word om die beurt aangeteken. Eers gaan druk Villagers ’n verdoelde drie om die voortou met 10-7 te neem, maar kort daarna antwoord Montagu met ’n suksesvolle strafdoel om sake weer 10-10 gelyk te maak.

Spel word vir ’n ruk lank heen en weer verplaas tot Montagu weer die neus voor kry met ’n drie – telling 15-10.

Minute later is dit Villagers wat ook met ’n onverdoelde drie terugslaan en die telling weer gelyk maak met 15-15.

Net voor rustyd rek Montagu sy voorsprong verder met ’n verdoelde drie ná ’n pragtige aanval waartydens die spelers die bal lekker lug gee. Die telling word 22-15 – die rustydtelling.

Vir ’n kort rukkie ná rustyd lyk dit of Montagu beheer van die wedstryd gaan neem toe hy die telling met nog ’n verdoelde drie tot 29-15 laat rek.

Villagers laat egter nie toe dat Montagu met die wedstryd weghol nie en kap terug met ’n drie om homself in die prentjie te hou. Die telling word 29-20, met Montagu steeds voor.

Kort hierna verspeel Villagers weer ’n kans om punte aan te teken met ’n mislukte strafdoel.

Minute later begin sake gunstiger lyk vir Villagers toe hy Montagu se doellyn weer oorsteek vir ’n verdoelde drie.

Met die telling nou 29-27 besef die blou-en-wit truie Villagers is besig om hulle in te haal.

Daarom, toe Villagers kort hierna in sy eie kwartgebied gestraf word, besluit Montagu sonder huiwering om pale toe te skop en sy voorsprong te vergroot. Ná die suksesvolle strafdoel skuif die telling aan na 32-27, ’n buffer van slegs vyf punte vir Montagu.

Die uurglas was byna leeg toe Villagers ná ’n verdoelde drie en onder groot toejuiging van sy ondersteuners die voortou vir die tweede keer in die wedstryd neem met die telling 34-32.

En toe gebeur dit. Montagu kom met ’n verwoede aanslag, maar word gestuit. Die bal word teruggespeel na sy heelagter, Cleve Malgas. Dié trap vas en jaag die wenpunte met ’n vinnige skepskop tussen die pale deur om sy span ’n welverdiende oorwinning van 35-34 te besorg.

Vir Montagu het Ryan George, sy woelwater-skrumskakel, uithalerspel gelewer. Cleve Malgas (heelagter) en Tain-Randall Booysen (agsteman) het ook ’n goeie wedstryd gehad.

Aan Villagers se kant het Lincoln Pasquallie, Bradley Ruiters (slotte), McMillan Muller (haker en kaptein), Ulfred Terblanché (agsteman) en Adriaan Klaasen (binnesenter) groot bresse geslaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article