Inwoners kan nou begin uitsien na die nuutste toevoeging aan die ontwikkelingsfront in die Swartland-streek. Indien alles volgens plan verloop, sal twee spoggerige vulstasies voor die einde van die jaar teen die N7-snelweg pronk.
Dié vulstasies is deel van Astron Energy se nuwe vulstasies. Die vulstasies gaan voortaan met die nuutste tegnologie ook vir elektries aangedrewe motors voorsiening maak.
Natie Coetzer, ’n mede-eienaar van die nuwe Astron Energy-vulstasiekomplekse, hoop om die eerste vulstasie, wat 10 km buite Malmesbury, in die rigting na Moorreesburg geleë sal wees, se deure teen die einde van Oktober of begin November vanjaar te open. Volgens die kontrakteurs kan finale oorhandiging teen 11 November geskied.
Die eerste vulstasie, geleë aan die linkerkant (wes) van die N7-snelweg by die ingang van AG Sprayers, se grondwerk het verlede week begin.
Sodra die grondwerk aan die eerste perseel voltooi is, word beplan om met die grondwerk aan die perseel van die tweede vulstasie te begin.
Die twee vulstasies sal ’n spieëlbeeld van mekaar wees, vertel Coetzer.
Coetzer en sy vrou, Lenette, het Januarie vanjaar na Malmesbury verhuis om die nuwe avontuur aan te pak. Hy vertel egter hulle en hul vennoot, Igor Pinto, beplan reeds sewe jaar aan dié ontwikkeling.
Hoewel die Covid 19-pandemie die ontwikkeling vir twee jaar laat sloer het, is hulle dankbaar om uiteindelik daarmee voort te gaan.
Coetzer en sy vrou het voorheen ’n vulstasie in Burgersfort besit, maar was ook voorheen in die boubedryf, vertel hy.
Hulle is deur goeie vriende van hulle – Koot Claassen van die Claassen-boerdery buite Malmesbury – aangemoedig en uiteindelik oorreed om die projek van splinternuwe vulstasies vir die streek aan te durf.
Die twee persele is intussen onderverdeel, het van eienaars verwissel en is van landbougrond gehersoneer.
Coetzer sê verder elke perseel is 3.15 ha groot. Elke vulstasie sal vier eilande hê, wat altesaam 16 voertuie kan bedien. Die vulstasies sal ook ’n hoëvolumepomp vir swaar voertuie en ’n vragmotorhawe vir oornagverblyf hê.
Coetzer is opgewonde om te noem dat elke vulstasie verder met ’n OK Express-winkel, ’n Steers-kitskosrestaurant en ’n Vida e Caffé-koffiekroeg aangevul sal word.
Die restaurant sal klante van volledige etes en veral ontbyt voorsien.
Die tweede vulstasie sal op sy beurt ook ’n Steers-kitskosrestaurant huisves, hoewel dit meer as ’n satelliet-vulstasie sal wees.
Boland Bouers gaan vir die bouwerk van die vulstasiekomplekse verantwoordelik wees.
Coetzer sê as “inkommer” van die streek met trots talle plaaslike werksgeleenthede gaan met dié ontwikkeling gepaard, terwyl sowat 70 permanente poste geskep word.

