Die dra van maskers word sedert verlede week nie meer in Suid-Afrika verplig nie.


Die afskaal van die oorblywende Covid-19-regulasies en die afskaffing van die dra van maskers verlede week, is landwyd met gemengde gevoelens ontvang.

Die publiek kan nou weer byeenkomste en sportwedstryde in volle kapasiteit bywoon en Covid-19-regulasies en -protokol by alle grense is ook opgeskort.

Die Suid-Afrikaanse minister van gesondheid, Joe Phaahla, het hierdie veranderinge laat verlede Woensdagaand aangebring.

Sosiale media het gegons weens mense se verskeie menings en onsekerhede, maar meestal mense se blydskap dat die dra van maskers nie meer verplig is nie.

Thula Nxesi, die minister van die departement van indiensneming en arbeid, het in ’n persverklaring gesê die departement ondersteun hierdie voorneme, maar hy het ook gewaarsku werknemers moet nie ’n afwysende houding teenoor gesondheid en veiligheid in die werkplek aanneem nie.

“Die gesondheid en veiligheid van werkers bly ’n voorkeur vir ons arbeidsmark. Die praktykkode oor die bestuur van blootstelling aan Sars-Cov-2 in die werkplek bly die leidende beginsel oor sake van gesondheid en veiligheid in die werkplek en is steeds die verantwoordelikheid van alle leiers om ’n inklusiewe omgewing te skep wat veiligheid in die werkplek bevorder en werkers gemaklik laat voel,” het Nxesi in sy persverklaring beklemtoon.

Die Wes-Kaapse premier, Allan Winde, wat al maande lank vra dat Covid-19-regulasies en die dra van maskers laat vaar moet word, was verheug met Phaahla se aankondiging.

“Ek ondersteun die aanbevelings om alle oorblywende beperkings op te hef, ten volle,” het Winde in ’n verklaring op sy Facebook-blad gesê.

Hy het ook beklemtoon dat dit nou almal se verantwoordelikheid is om veilig te bly.

“Dit is nou tyd vir alle inwoners om die lesse wat hulle die afgelope twee jaar geleer het, toe te pas om hulself veilig te hou. Dit gaan oor individuele verantwoordelikheid.”

Die premier noem ook in die verklaring hoe die beperkings ekonomiese groei en werkskepping oor die afgelope twee jaar belemmer het – veral in die gasvryheidsbedryf.

“Ons moet nou aanbeweeg en leer om met Covid-19 saam te leef,” het Winde gesê.

“Ons het nou bewys ons gesondheidstelsel het die vermoë, en daarom het ons nie meer enige verdere randstene nodig wat ons ekonomiese potensiaal beperk nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article