Een van Robertson se spelers bars deur McGregor se verdedigingslinie op pad doellyn toe. Dié twee spanne het die afgelope Saterdag hul laaste ligaverpligtinge in die eerste ronde van Boland se Grootuitdaagbekerkompetisie afgehandel. Die tweede ronde begin op 23 Julie. Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

McGREGOR – Die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbekerkompetisie se reeks eersteronde-ligawedstryde het Saterdag (2 Julie) ten einde geloop.

Volgens ’n skrywe van die rugbyunie, wat op 28 Junie uitgereik is, begin die tweede ronde Saterdag 23 Julie.

Robertson Town het sy eersteronde-ligaverpligtinge in ’n klipharde wedstryd teen McGregor op laasgenoemde se tuisveld met ’n sege afgesluit.

McGregor se posisie aan die onderent van die punteleer skep die indruk dat dié span ’n maklike prooi is om plat te trek. Toe nie.

Vra maar die hoogaangeskrewe Robertson hoe hy geswoeg het om ’n hardnekkige McGregor, wat net nie wou bes gee nie, die knie te laat buig.

Was dit nie vir sy gebrekkige verdediging, enkele hanteerfoute en verspeelde kanse nie, kon McGregor dalk sy meer geroemde teenstaander op die neus laat kyk het.

Na dié klippe-kou-stryd was Robertson egter 24-15 baas nadat hy rustyd 17-3 voor was.

McGregor het werklik goed gespeel, maar afgesien van die winderige toestande, wat die spel vir beide spanne bemoeilik het, het hy in die eerste helfte ook ’n paar geleenthede om punte aan te teken, deur die vingers laat glip.

So byvoorbeeld het hy twee redelik maklike strafskoppe en ’n doelskop gemis. Dit kon heel moontlik dalk die gang van die wedstryd verander het.

Daarby het hy ook by geleentheid sy eie lynstaanbal in ’n aanvallende posisie – vyf meter van Robertson se doellyn af – aangeslaan. ’n Moontlike vyf punte is daarmee in die afvoerpyp af.

In die skrums was die wedywering nogal straf. Hoewel Robertson aan die einde van die dag sterker uit die stryd getree het, het McGregor sy skrums verskeie kere in die wedstryd laat kreun.

Aan die anderkant van die muntstuk het Robertson die geleenthede wat na sy kant toe gekom het, beter benut. Ondanks die lastige wind, wat sake bemoeilik het, het hy seker gemaak sy skoppe pale toe is oor. Boonop was die besoekers se verdediging ietwat beter as dié van die tuisspan.

Dus, geoordeel op die dag se spel, was Robertson die beter afgeronde span en het uiteindelik welverdiend met die louere weggestap.

Robertson, wat ná die eerste ronde in die tweede posisie is, het drie verdoelde drieë en ’n strafdoel aangeteken, terwyl McGregor, wat in die tiende posisie is, tydens sy terugvegpoging in die tweede helfte twee drieë, waarvan een verdoel is, aangeteken het. Hy het in die eerste helfte ook met ’n strafdoel geslaag.. Die Montagu-rugbyklub, wat Saterdag teen die verwagting in naelskraaps teen Young Hamiltons verloor het, is steeds die toonaangewende span van die Grootuitdaagbekerkompetisie in die Breë-Langeberg-afdeling.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article