Sewe Wes-Kaapse boere het in 1922 bymekaar gekom en ’n koöperasie gestig met die doel om die boere se graan op ’n koöperatiewe basis te maal. Vandaar het die handelsmerk, Bokomo tot stand gekom.
Bokomo, een van Suid-Afrika se gewildste handelsmerke, vier dus vanjaar sy 100ste bestaansjaar.
Die maatskappy is nie net ’n gewilde baken in Malmesbury nie, maar pronk met ’n ryk geskiedenis hier uit die hartjie van die Swartland.
As deel van sy eeufeesvieringe, het PepsiCo Sub-Saharan Africa, in samewerking met sy vennoot FoodForward Suid-Afrika, besluit om 100 kospakke aan begunstigdes in en om Malmesbury te skenk, sê Evan Gilbert, kommunikasiebestuurder van PepsiCo SSA.
’n Enkele skenking is gelykstaande aan 12 000 maaltye wat dié families in nood in die wintermaande ver sal bring. Nie-bederfbare produkte en stapelvoedselsoorte soos rys en mieliemeel, asook vars groente is onder meer die afgelope Woensdag aan gesinne uitgedeel.
Die onlangse uitreiking dien as erkenning van die belangrike rol wat die plaaslike gemeenskap in die voortbestaan van die handelsmerk speel, maar ook hul volgehoue ondersteuning oor die jare heen.
PepsiCo SSA is dit eens dat die graanmeule sowel as die handelsmerk nie dié ongelooflike mylpaal sonder die plaaslike steun van die gemeenskap sou haal nie.
Sinethemba Swartland, ’n gemeenskapsorganisasie sonder winsbejag, wat onder meer gesondheidsdienste en ondersteuning aan plaaslike inwoners van die Swartland bied, was die begunstigdes van die meerderheid skenkings. ’n Bykomende nege ander godsdienstige organisasies en kerke is verder genader om te help met die identifisering van ander begunstigdes uit die omgewing, wat dié kosskenkings broodnodig het.
“PepsiCo SSA is besonders trots op Bokomo as ’n erfenis-handelsmerk,” sê Gilbert. “Die bewaring van die handelsmerk se geskiedenis vir toekomstige geslagte word as baie belangrik geag.”
Dit is juis om dié rede dat PepsiCO die Malmesbury-museum as vennoot geïdentifiseer het. ’n Unieke en uitgebreide uitstalling van die geskiedenis van Bokomo sal hier aangetref word. ’n Skenking van R25 000 is dieselfde dag aan die museum oorhandig.





