Wat gebeur wanneer sakeondernemings saamspan om plastiekvrye Julie in Malmesbury te verseker? Dit sneeubal, sê Growing Paper, Malmesbury se papierspan, wat self reeds suksesvol plastiek in hul produksieproses uitgeskakel het.
Growing Paper nooi nou ander ondernemings om deel te raak van die Plastiekvrye Julie-inisiatief.
“Ons het Bosch Services en Malmesbury Makers gevra om met hierdie veldtog te help. Ons wil alle sakeondernemings daarby betrokke kry om vandeesmaand te fokus op die skade wat plastiek aan ons omgewing doen, asook beskikbare alternatiewe bekendstel. Ons doen plasings hieroor op sosiale media en daag sakeondernemings en individue uit om meer bedagsaam te wees met die gebruik van enkelgebruik-plastiekprodukte. Hoe meer betrokke raak, hoe groter die momentum.
“Wil jy ook help om die beste besluite vir ons omgewing te neem?” vra Growing Paper se stigterslede en eienaars, Nileta Knoetzen en Roxanne Schumann.
Dis presies wat Bosch Services met hul herwinningsonderneming doen: “Hierdie familie-inisiatief het verlede jaar ontstaan toe ons teruggetrek het Malmesbury toe,” vertel Petri en Marcelé Bosch. “In Kaapstad kon ons ’n herwinningsdrom uitsit. In Malmesbury wou ons nie weer terugkeer na ons ‘slegte’ gewoontes waar alles as-gate toe gaan nie, want wat doen ons vir ons planeet? Ons het klein begin met herwinning naby ons, maar soos die woord versprei, het die projek gegroei.”
Die grootste vraag op almal se lippe is, ‘hoe begin ons, wat kan ons alles herwin – vra dit nie te veel werk nie?’
“Inteendeel! Skaf vir jou ’n tweede kombuisdrom aan; gooi alle plastiek, papier, glas en blikke in jou sak (deurmekaar en in ’n aparte swartsak is rég!), sit dit vir ons uit soos jy jou vullis op voorgeskrewe dae uitsit en ons laai dit vroegoggend op. As jy twyfel oor iets, gooi dit in; ons sorteer dit namens jou.
“Bosch Services wil graag sy gebied uitbrei, so laat weet ons waar jy woon en ons maak ’n plan.” Tans dek hulle Dinsdae Mount Royal, Woensdae Panorama en Donderdae Tafelzicht, Amandelrug, Olive Place, Glen Lilly en Moller Estate.
“Saam kán ons ’n verskil maak. Die verskil begin by elkeen se eie plek.”
Kontak Petri Bosch by 083 756 2896 vir herwinningsnavrae of besoek www. boschservices.co.za. “Bel die Bosch-ou!”
Malmesbury Makers het tydens die pandemie ontstaan omdat twee vriendinne bekommerd geraak het oor pandemieverwante uitdagings vir klein ondernemings. Malmesbury Makers is deel van ’n plan om Malmesbury se intra-ekonomie te stimuleer.
“Ons moedig mense aan om plaaslik te ondersteun en klein en veral kreatiewe ondernemings te bevorder,” vertel hierdie vroue wat verkies om nie hul name bekend te maak nie. “Verder bied ons kreatiewe werksessies aan om mense aan te moedig om naweke dorp toe te [kom] en hul geld hier te bestee.
“Ons help Growing Paper met bewusmaking en bemarking oor Plastiekvrye Julie. Hou ons gerus dop by @malmesbury.makers.”
. Intussen het Sinethemba, die Swartlandse tuisverplegingsorganisasie, ’n belangrike projek begin deur weggooi-plastiekdoppies en broodknippies in te samel om vir ’n rolstoel te verruil.
“Sodra ons 450 kg plastiekdoppies kan insamel, ruil ons dit vir ’n rolstoel by Kaapstad se Sweetheart Foundation. Dié 450 kg vra die samewerking van ’n hele gemeenskap. Dink net, die projek vra geen geld van jou nie – versamel net broodknippies en plastiekdoppies in jou huis, koshuis of werkplek en bring dit na ons Sinethemba-kantoor in Roosstraat 4, Malmesbury, of die Ou Kommandogebou in Moorreesburg.”
Enigiemand se weggooidoppies en broodknippies kan iemand bemagtig, is hul oortuiging. “Al die plastiekdoppies wat ons weekliks weggooi en die strate vol lê – dink net hoe kan dit ’n gestremde se lewe verander as Malmesbury se mense saamstaan en doppies versamel met ’n doel,” sê Heylin Williams, bestuurder van Sinethemba se Happy Heart-program vir gestremdes. . Kontak haar gerus by happyhearts@sinethemba.net.za



