’n Bonnievale-familie moet R300 000 insamel vir ’n operasie aan hul 8-jarige seun.
Jo-Tayquin Isaacs is met epilepsie diagnoseer toe hy net 5 maande oud was. Sy dokters het nou sy familie aangeraai dat hy vir ’n operasie te gaan.
“Sy dokter het gesê die beste opsie nou is dat hy vir ’n operasie moet gaan. Hy het gesê hy kan nie langer Jo-Tayquin se pille aanpas nie, omdat hy nou oor sy dosis is,” verduidelik Laurika Lombard, die seun se ma.
Volgens haar kry haar seun twee tot drie keer ’n week epileptiese aanvalle.
“Die epileptiese aanvalle is meestal onvoorspelbaar. Maar deesdae kry hy dit meestal in die oggend. Maar hy is so oulik, hy weet nou al wanneer dit gaan gebeur. Een oggend oor die naweek het hy my drie keer kom wakker maak.”
Sy verduidelik voorts dit was nie ’n lekker gevoel toe hulle die diagnose ontvang het nie.
“Dis nie ’n lekker gevoel nie. Maar wat kan ’n mens maak, ons vat dit maar elke dag soos dit kom.”
As gevolg van die epilepsie kan Jo-Tayquin nie heeltemal sy regterhand of -voet ten volle gebruik nie.
“Hy kan sy vingers van sy regterhand beweeg maar kan nie goed optel met die hand nie, Sy regtervoet sleep ook en as gevolg daarvan kan hy nie swaar skoene dra nie, hy kan nie eers gewone skoolskoene dra nie, want dit is te swaar vir hom,” verduidelik Lombard.
Sy voeg by dat haar seun nie toelaat dat die epilepsie hom onder kry nie.
“Hy doen alles wat ander kinders doen, al kan hy nie sy regterhand gebruik nie en al sleep sy regtervoet. Hy laat dit hom nie onderkry nie.”
Lombard en haar gesin doen nou alles in hul vermoë om geld in te samel sodat Jo-Tayquin se lewe kan verbeter word.
“Ons probeer alles om geld in te samel – al is dit hoe min, elke bietjie dra by tot die groot bedrag.”
Aan die einde van die maand sal daar twee geldinsamelingsfunksies plaasvind. Op Saterdag 30 Julie gaan motorfietsryers ’n breakfast run doen. Hulle sal om 10:00 in Ashton bymekaar kom in die Hoofweg waar hulle dan ontbyt sal geniet. Daarna sal hulle deurry na Bonnievale waar hulle om 12:00 by Jo-Tayquin se huis alle gelde wat ingesamel is, sal oorhandig. Enigeen is welkom om aan te sluit en kan 064 088 6827 bel vir meer inligting.
“Ons gaan ook Sondag 31 Julie ’n sangmiddag hou. Die Lekker Crew sal die mense vermaak. Ons sal ook nommers trek en verskeie pryse tydens die middag gee,” verduidelik Lombard.
Vir kaartjies na die sangmiddag kontak gerus vir Lionel by 073 626 7527, of vir Laurika by 078 724 8218, of Morten by 082 975 6334 of Danie by 079 405 2480.





