“Die eenvoud van die streek, warm gasvryheid en plat-op-die-aarde-mense.”
Dít is hoe Lizelle Carstens, die nuut aangestelde toerismebestuurder van die Swartland, die streek beskryf.
Toerisme in die Swartland het ’n splinternuwe baadjie aangetrek. Ná talle konsultasies, onder leiding van Henk Bruwer, die uittredende voorsitter van die Kaapse Weskus- Swartland-Toerisme-organisasie, soos dit sedert 2007 bekend gestaan het, is ’n nuwe struktuur binne toerisme in die streek van stapel gestuur.
Carstens verduidelik voorheen het vyf individuele toerismekomitees onder meer in Malmesbury, in die Riebeekvallei, Darling, Moorreesburg en Koringberg gedien.
’n Konsultasiemaatskappy, wat deur die Swartland-munisipaliteit aangestel is, het dus ’n nuwe struktuur vir toerisme in die streek voorgestel. Die voorstel, wat op 20 Mei 2021 deur die raad goedgekeur is, het die registrasie van ’n maatskappy sonder winsbejag, maar met direksielede, ingesluit, asook die sentralisering van die finansies en die bestuur van die inligtingsentrums vir besoekers van reg oor die streek.
Volgens Carstens is die kollektiewe benadering tussen sakeondernemings en gemeenskappe asook werkskepping hoog boaan die lys doelwitte. Die bestuurspan se eerste taak is om alle prosesse en prosedures in te stel sonder om momentum te verloor, sê sy. “Ons sit met ’n ongelooflike dinamiese span wat die streek wil dien. Almal het ’n gemeenskaplike doel en dit is om die Swartland te bemark sodat almal daarby kan baat. Een van die grootste uitdagings is nou om almal te kry om hande te vat sodat ons die potensiaal van toerisme in die Swartland kan ontsluit en alle gemeenskappe voordeel kan trek,” voeg sy by.
Die deelname van plaaslike toerismeondernemings is dus ongelooflik belangrik vir die toekoms van die nuwe maatskappy en die toerismebedryf binne die Swartland, voeg Carstens by.
“Behalwe om alle administratiewe prosedures ingestel te kry, sal die eerste stap vir die nuwe maatskappy wees om ’n breë toerismestrategie met insette van die plaaslike toerismelede saam te stel.”
Volgens haar sal die bestaande vrywillige toerismekomitees in die verskeie dorpe van groot waarde wees in die bereiking in hul doelstellings.
Die bestuursplan is gebaseer op ’n vrygewige finansiële bydrae van die plaaslike munisipaliteit, met wie die maatskappy ’n drie jaar lange diensvlakooreenkoms aangegaan het, insluitende die bydrae van die plaaslike toerismeondernemings deur jaarlikse vrywillige lidmaatskap.
Die vyf vrywillige direksielede van Swartland Toerisme NWM, wat gedurende die eerste openbare vergadering in April vanjaar aangestel is, is Tewie Roos (voorsitter), Jolene Janse van Rensburg (ondervoorsitter) Sean Cleary-Le Grange, Michael Daiber en Derek van der Riet, met Dawie Scholtz as die tesourier van die maatskappy.
“In die ekonomiese klimaat waarin ons tans is, is ’n verenigde front en ’n gekoördineerde benadering nog belangriker as voorheen. Die registrasie van ’n maatskappy sonder winsbejag vir toerisme is absoluut sinvol omdat dit die maatskappy in ’n beter posisie sal plaas om borge aan te stel, asook om beter samewerking met die plaaslike owerhede te bewerkstellig,” sê Roos.
Carstens moedig plaaslike toerismeondernemings aan om deel te word van die nuwe en opwindende rigting waar plaaslike toerisme inbeweeg deur as lid aan te sluit en hul welkome insette tot die nuwe struktuur te lewer. Sy het verder beklemtoon Swartland-toerisme se strategie en aktiwiteite sal belyn wees met dié van Weskus-streekstoerisme-organisasie en Wesgro, die Wes-Kaapse toerisme-agentskap.
Carstens beskou haar nuwe aanstelling as ’n persoonlike uitdaging en sien uit om betrokke te raak by die plaaslike gemeenskap, maar ook plaaslike sakeondernemings.
Sy sê sy sien die meeste daarna uit om saam met mense te werk wat passievol is oor die bedryf en nie bang is om hul kennis te deel nie. “En natuurlik om ’n blywende verskil te maak.”





