Talle is verheug oor die uitlewering uit Lesotho van nog drie verdagtes wat na bewering by die moord op die Wessels-paartjie in 2019 betrokke was.
Jurie (Tool) Wessels en sy vrou, Liezel, is Mandag 13 Mei 2019 deur vier verdagtes gemartel. Tool is doodgeskiet, maar sy vrou het daarin geslaag om na ’n buurplaas te ry om hulp te ontbied.
Moeketsi Hlaudi, Kekekso Ntsabisa en Thabiso Ramollo, al drie van Lesotho, het verlede Woensdag in die hof in Bonnievale verskyn. Die vierde verdagte, Ntabanyane Tlali, is reeds in 2019 in hegtenis geneem.
“Die staatsaanklaer, advokaat Megan Blows, het die hof ingelig dat die drie beskuldigdes teregstaan op aanklagte van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie,” het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se woordvoerder, Eric Ntabazalila, in ’n persverklaring gesê.
Verder verduidelik hy die verdagtes was al drie seisoenale werkers op die plaas.
“Die beskuldigdes, wat seisoenale werk by die oorledene se plaas verrig het, het van hul kennis van die plaas gebruik gemaak en beplan om die plaaseienaar en sy vrou aan te val. Hulle het Wessels en sy vrou gemartel deur hulle te steek, te slaan en met kookwater te gooi.”
Ntabazalila het ook genoem dat die staat borg sal teenstaan.
“By hul eerste verskyning het advokaat Blows hul vrylating op borgtog hangende hul verhoor teengestaan. Die saak is daarna tot 3 Augustus uitgestel sodat die beskuldigdes die hof kon inlig of hulle van plan is om vir borgtog aansoek te doen. Die NVG bevestig dat hy enige aansoek om borgtog heftig sal teenstaan, hangende die strafregtelike verhoor.”
Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer het ook die uitlewering verwelkom.
“Dit is goeie nuus. Maar, soos ek aangedui het, is ’n aanval op ’n boer ’n aanval op ons landelike ekonomie. Daarom, indien nodig, bied ek my ondersteuning om enige aansoek deur die verdagtes teen te staan,” het Meyer in ’n verklaring, wat verlede week uitgereik is, gesê.
Hy het ook gesê die Wes-Kaap doen sy bes om die provinsie veiliger te maak.
“Ons ingrypings moet egter ondersteun word deur ’n sterk en professionele polisiediens en ’n doeltreffende strafregstelsel. Ek bedank die ondersoekspan vir die toewyding wat tot dusver getoon is en sien nou uit na die aanklaer-span om meedoënloos op te tree in die nastrewing van die waarheid.”
Reagan Allen, die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het ook sy blydskap oor die uitlewering in ’n verklaring meegedeel.
“Dit is inderdaad welkome nuus. Ek prys die betrokke wetstoepassers en regterlike beamptes wat verseker het dat diegene wat na bewering hierdie misdaad gepleeg het, aanspreeklik gehou kan word. (Dit) maak nie saak waar dit voorkom of teen wie dit gepleeg word nie – misdaad is nie welkom in ons gemeenskappe nie. Dit wys ook dat misdadigers nêrens sal hê om weg te kruip nie, aangesien die lang arm van die gereg hulle sal inhaal. Ons moet nie ophou om die lewens van misdadigers binne die grense van die wet ongemaklik te maak nie,” lui die verklaring. Verder sê hy die plaaslike regering sal aanhou werk om plaasgemeenskappe veilig te hou.
Die uitlewering van die drie verdagtes was ’n gesamentlike onderneming deur die NVG, Interpol, die SAPD en die departement van korrektiewe dienste.

