“Jy wens jy kan meer doen. Jy wens jy kan meer beteken of vir haar ’n lewe gee wat sy verdien. Dit is net soms so moeilik – veral in vandag se tyd.”
Só vertel Johanna Begenaar, ’n enkelma van Bonnievale, wat elke dag werk en aan verskeie maniere dink om na haar en haar gestremde dogtertjie, Florina (9), om te sien.
Dandy-Walker-misvorming is in 2015 by die tweejarige dogtertjie van Johanna, ’n huiswerker op ’n plaas in dié omgewing, gediagnoseer.
“Ek het agtergekom sy is ’n bietjie stadig. Sy doen alles stadig en haar ontwikkeling is ook effens agter. Ons is na die Tygberg-hospitaal verwys en ná vele toetse ingelig dat haar kleinbrein tydens ’n vermoedelike suurstoftekort met geboorte seergekry het,” verduidelik Johanna.
Hierdie diagnose het Johanna die berusting gegee om te weet presies wat met haar dogtertjie fout is, maar ook ’n string nuwe uitdagings na vore gebring.
“As ouer wil ’n mens altyd die beste vir jou kinders hê. Jy wil vir hulle alles gee en net die beste ook daarby. My geldsake laat dit ongelukkig nie toe nie.”
Johanna werk elke dag en oor naweke, en saans maak sy goed om te verkoop of bied selfs konserte aan om ekstra geld vir haar dogtertjie se versorging te probeer verdien.
“Hier is nie gespesialiseerde skole hier nie. My ma kyk na Florina deur die dag. Ek wens ek kon haar na ’n skool toe stuur sodat sy die regte hulp kan kry en iets van haar lewe kan maak. Dit breek my hart,” vertel ‘n emosionele Johanna.
Sy verduidelik hoe sy ’n ruk in Atlantis in die Kaap gewoon het om daar naby ’n skool te wees, maar dinge het nie uitgewerk nie as gevolg van uitdagings ten opsigte van verblyf. Sy vertel ook dat sy soms sukkel om kop bo water te hou.
“Florina moet doek dra. Dit kos baie geld. Sy eet spesiale kos, kry medikasie en gebruik toerusting om haar lewe beter en makliker te maak. Als kos geld – iets wat ons nie het nie. Ek wil nie bedel nie, maar ek wil graag goed maak met die dinge wat mense dalk in hul huise het en nie gebruik nie. Ek wil ook vir ander ma’s en ouers in dieselfde posisie wys dit is moontlik,”
Sy vertel dat sy enige hulp ook sal waardeer wat aktiwiteite insluit om haar dogter te stimuleer, aangesien sy nie kan loop nie en vreeslik sukkel om te praat.. Enigiemand wat na Johanna en haar dogter wil uitreik, kan haar by 072 689 7398 bel.





