Drie leerders van Ashton is gekies om hul skool en dié streek in die Langeberg oorsee te gaan verteenwoordig.
Jowayden Cupido (18), Dehandré Theodore (19) en Fernandes Moses (19) is al drie kranige rugbyspelers van Ashton Sekondêre skool en is onlangs gkies vir ’n 7’s-rugbyspan, wat staal in Desember in Maleisië gaan wys.
“Ek is baie opgewonde en eintlik trots op myself ook om gekies te word. Dit is ’n groot eer,” het Cupido aan Gazette gesê.
Theodore en Moses deel dieselfde gevoel en sê hul ouers, families en onderwysers is ook trots op hulle en hulle sien uit na die moontlikheid om hieraan te gaan deelneem.
Die Jointly Building Communities-stigting (JBC-stigting) het sowat ’n dekade gelede tot stand gekom en fokus daarop om jong, opkomende jeug blootstelling in verskeie sportsoorte en kulturele aktiwiteite te gee.
Hulle fokus veral op die jeug in klein dorpe en gemeenskappe en wat nie aldag dieselfde geleenthede het as dié wat in stede woon nie.
Al drie hierdie matriekleerders is passievol oor rugby en wil graag die geleentheid gebruik om hul toekoms te verbeter, hul dorp en gemeenskap trots te maak en internasionale blootstelling in sport te kry.
Die fokus van hierdie program is juis om jong sportsterre vir die toekoms te brei.
Alhoewel al drie graag wil gaan, is ’n finansiële uitdaging hieraan gekoppel.
“Dit is duur, maar ons probeer planne maak. Ons sal dit graag wil bywoon. Dit bly ’n eer om ’n mens se land te gaan verteenwoordig,” sê hulle.
Die 7’s-toernooi, wat van 7 tot 18 Desember vanjaar plaasvind, fokus nie net op die sport nie, maar ook op kulturele blootstelling en kennisname met ander groot sportsterre, wat hul wysheid en kennis gaan deel.
Die kostes beloop egter R32 750 per speler.
Enigeen wat bereid is om ’n bydrae te lewer, kan gerus in verbinding tree met Russel Carelse, voorsitter van die JBC-stigting. Hy kan by 079 024 1490 gekontak word.





