Haweloosheid is ’n kwessie wat al meer in die Langeberg en die Breedevallei voorkom. Veral in die winter kry mense wat op straat moet woon, baie swaar.
Gazette het in die verlede berig oor die straatbewoners in Robertson, wat soms voor die polisiekantoor daar slaap.
“Ons voel veilig hier. Die ander dele van die dorp is net nie veilig nie. Ten minste weet ons ons is ’n bietjie veiliger hier,” vertel een van die straatbewoners.
Daisy sê hulle slaap elke aand maar op ’n ander plek. Sy sukkel al ’n hele paar jaar om haar aansoek vir ’n staatstoelae suksesvol af te handel.
“Hier en daar sal iemand vir ons ietsie gee. Ons is altyd dankbaar, maar ons lewe maar vir die dag van vandag. Môre het ons dalk weer niks en oormôre sal ons dalk weer ietsie eet,” vertel sy verder.
Plaaslike wetstoepassers het verduidelik dat hulle die wet toepas waar moontlik en dat hulle opdrag kry om soms op te tree. Dit is juis om ’n poging aan te wend om dwelmgebruik te kniehalter, en in baie gevalle word bewoners na die skuiling geneem.
In Worcester woon Daisy Floors (44) en haar kêrel, William Tromp, op straat. “Ons was al in ’n skuiling, maar dit raak vol. Ander mense moet dan ook iewers bly, en dan moet ons maar trek. Ek hou nie daarvan om soos ’n las te voel nie,” sê Daisy.
“R10 gee nie vir my of my kêrel kos nie. R10 kan ons nie warm hou nie. R10 kan nie eens vir ons ’n ekstra kombers koop nie,” sê Floors terwyl sy ’n koppie sop as middel gebruik om haar bibberende hande warm te hou– ’n koppie sop wat sy met die nabye vulstasie se warmwaterkraan voorberei het.
Sy en Tromp woon al die afgelope drie jaar op straat en vertel aan Gazette hoe hulle jaar vir jaar vrees dat die winter dalk een van hulle kan eis.
“Sommige mense is bang om dalk in ’n motorongeluk dood te gaan, of dalk ’n siekte, maar ons bekommer ons oor die koue. Soms raak dit so koud dat ek nie my hande kan gebruik nie. Dit pyn en die kliniek is ver,” vertel Daisy terwyl sy die dun kombersie tot by haar ken optrek.
Daisy het vir ’n paar jaar as skoonmaker in Bellville gewerk, maar nadat William sy werk as verwer verloor het, het hulle in 2018 besluit om by haar tannie in Worcester in te trek.
“Ek het werk gesoek, maar gesukkel. William het ook nie werk gekry nie. My tannie is in 2019 oorlede en ons het probeer om die huisie in Riverview aan die gang hou. Ons moes in 2020 trek en die plek opgee.
“Die straat was ons enigste opsie.”
Dié paartjie het hulself met een mandjie, twee plastieksakke met klere en ‘n kombers onder die brug naby die De La Bat-swembad bevind.
“Ek het elke dag dorp toe geloop en probeer werk kry. Hier en daar kon ek iets kry, maar in 2020 het William siek geword en Covid-19 opgedoen. Dit was moeilik, want ek moes hom versorg. Ek moes ook werk soek en sorg dat ons veilige slaapplek het.”V Vervolg op bl. 2





