Inwoners van Bonnievale het die stem oor swak dienslewering Woensdag 24 Augustus behoorlik dik gemaak.
Inwoners sê die probleme met dienslewering is ernstig en iets wat hulle gereeld probeer oplos, maar weens kostes wat styg en werksgeleenthede wat minder raak, is behuising en iets so eenvoudig soos ’n dak oor die kop ’n skaarse in hierdie dorp.
Gemeenskapslede het deur middel van ’n georganiseerde optog verskeie strate versper en hul noodkreet luidrugtig uitbasuin.
“Werksgeleenthede, behuising en beter dienste – dit is al wat ons soek. Genoeg is genoeg. Ons moet opstaan vir wat reg is,” sê Milino Phillips, wat al amper 20 jaar in Bonnievale woon.
“Ek het die grootste deel van my lewe hier deurgebring en dit voel of alles net agteruitgaan. Ons mense raak meer, ons mense raak armer en ons geleenthede, ons behuising en ons dienslewering raak al minder,” voeg hy by.
Die betoging was in pas met die poging tot ’n nasionale stilstand verlede week. Die stilstand wou ook ’n dringende en duidelike boodskap aan die regering oordra oor verskeie kwessies wat tans die gemiddelde landsburger raak en kniehalter.
Sers. Sera Julies van die Bonnievale-polisie het die betoging bevestig en gesê dit is vooraf goedgekeur en die owerhede was op die toneel.
“Verskeie paaie en ingange na die dorp is versper. Die polisie en ander owerhede was op die toneel om seker te maak wrywing ontstaan nie. Alles was vreedsaam en het goed verloop.”
Die Langeberg-munisipaliteit het ’n skrywe op sy Facebookblad gedeel en beaam hy dra kennis van die aksie wat geneem word en inwoners en motoriste ingelig oor die uitwerking wat die betoging op paaie en dienslewering in daardie tyd sou hê.
Gazette het na die sameroepers van die betoging probeer uitreik, maar teen druktyd is ons oproepe steeds nie beantwoord nie.




