Die span van Darling Cellars met die talle trofees wat hulle opgeraap het: Agter: Anthony Meduna, Riaan de Waal, Oubaas Kirsten en Bertrum Titus. Voor: Magda Immelman, Pieter-Niel Rossouw en Reon Richter. Foto: Charlotte Lesch


Plaaslike wynkelders in die streek het vanjaar weer eens behoorlik beïndruk soos trofees een ná die ander tydens die Swartland-jongwynskou opgeraap is. Dié jaar was dit Darling Cellars se jongwyne wat koning gekraai het. Dié kelder en sy span stap vanjaar met ’n ongelooflike tien trofeë weg, insluitend die Absa- Groot kampioen vir sy Sémillon (gehout).

Die jaarlikse geleentheid het die eerste keer by Darling Cellars se splinternuwe onthaalsentrum plaasgevind.

Pieter-Niel Rossouw, hoofwynmaker by die kelder en voorsitter van die Swartland-wynskouvereniging, het die geleentheid as “spesiaal” beskryf. Hy het weer benadruk dat geen pars en geen jaar dieselfde is nie, maar nie gekeer het dat plaaslike wynkelders weer ingeskryf het nie. “Die jongwynskou het ’n baie sagte plek in my hart. Die geleentheid help om jou as wynmaker en jou wyne beter te maak.” Hy het elke kelder vir hul deelname bedank.

Charles Withington, eienaar van The Darling Wine Shop in Darling, is dit eens dat die jongwynskou nie net oor goud gaan nie, en hy beskou die geleentheid as ’n samewerkingsgeleentheid tussen wynmakers waartydens kennis gedeel word. “Dit is ’n ‘kom ons werk saam om saam te kan groei’-geleentheid.” Hy het die prysuitdelingseremonie gebruik om wynkelders, borge en besoekers net weer te herinner hoekom die Swartland as ’n besonderse wynstreek beskou word. “Geen wynstreek is so uniek soos die Swartland se wynstreek nie, en dit is danksy die mense agter die wyne. Hulle is plat op die aarde en eg. Hier is ’n diepte van wyn wat ek nie dink ander wynstreke het nie – en boonop goeie wyne met goeie pryse en waarde vir geld.”

Tien kelders uit die Darling- en Swartland- wyn van oorsprong-gebiede het vanjaar aan die jongwynskou-kompetisie deelgeneem, waartydens agt goue, 46 silwer en 28 bronsmedaljes toeken is. Daarbenewens is altesaam 26 streek-klaswenners in die goue en silwer-prysuitdeling aangewys.

“Hierdie besonderse wyne staan as toonbeeld in hul kategorieë en het in aanmerking gekom vir die onderskeie streekstrofeë, buiten die Groot kampioen-trofee, waarvoor slegs wyne wat ’n goue medalje gewen het, verkiesbaar gestel is,” het die vereniging verduidelik.

“Vanjaar het vir seker sy uitdagings gehad. Baie goeie reënval is in die winter en lente aangeteken. Goeie koue in die winter het wingerde goed laat rus en reserwes vir die komende oes opbou.

“Die reën het egter laat – tot in die vroeë somer – aangehou. Dit het uitdagings ten opsigte van siektes gebring. Konstante en langdurige hittegolwe einde Januarie tot middel Februarie het bygedra tot vroeë rypwording van wit kultivars en baie laat rypwording van rooi kultivars,” sê Rossouw.

Die jongwynskou word beskou as ’n tegniese kompetisie en platform wat wingerdboukundiges en wynmakers die geleentheid bied om hul wyne van die nuutste oesjaar teen dié van hul eweknieë te meet en die gehalte van nuwe wyne en wynstyle op ’n groter platform te toets.

Die streekskompetisie word jaarliks deur die Swartland- wyn-en-olyfroete gekoördineer en vorm deel van die plaaslike aanloop tot die Suid-Afrikaanse nasionale jongwynskou.

Darling-kelders pronk vanjaar met die Malmesbury Toyota- kampioen droë wit versnit-trofee (Sauvignon blanc/Chenin blanc), die Enartis-kampioen ander wit kultivar-trofee (Sémillon, gehout), die Kaap Agri- kampioen natuurlike soetwyn-trofee (Sauvignon blanc/Grenache Noir), die Nexus- kampioen droë rooi versnit-trofee (Shiraz/Cabernet sauvignon/Petit syrah) en die Kobus Basson- kampioen pinotage-trofee. Die wenlys behels verder die Wine Machinery- kampioen Cabernet sauvignon-trofee in, asook die Séan Nieuwoudt- kampioen Cinsaut-trofee, die Santam Landbou- kampioen ander rooi kultivar-trofee (Petit Syrah), die Vinochem-trofee vir die vyf beste inskrywings en natuurlik die Absa- Groot kampioen-trofee (Sémillon, gehout).

Allesverloren was vanjaar die wenner van die Sail- kampioen versterkte wyn (tooi muskadel jerepigo).

Groote Post stap vanjaar met die Vinventions- kampioen Sauvignon blanc-trofee weg, terwyl Pulpit Rock Wines die Porex- SA kampioen merlot-trofee gewen het.

Riebeek Valley Wine Co pronk op sy beurt met die CJP Chemicals- kampioen Chenin blanc-trofee sowel as die Kotzé/ Steyn- kampioen shiraz-trofee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article