Die Swartland- Kleingraan-ontwikkelingsgroep (SKOG) het vanjaar weer die geleentheid aangebied waartydens produsente en besoekers verskeie proewe op die Langgewens-navorsingsplaas tussen Malmesbury en Moorreesburg kon besigtig.
Die jaarlikse SKOG-dag is die afgelope twee jaar weens die Covid-19-pandemie digitaal aangebied. Die inligtingsdag het dié keer ’n ander formaat aangeneem en produsente kon die proewe en aanbiedings deur kenners enige tyd gedurende die dag bywoon en besigtig.
Die altesaam 14 aanbiedings het gewissel van kanolakultivars, dekgewasse en peulgewasse tot koringkultivars en vele meer.
Jan Botes van Agricol het onder meer gesê produsente is baie positief oor die komende oes. Koring -en kanolaprodusente is dit eens indien nog ’n goeie bui reën gedurende Oktober vanjaar gaan val, lê ’n belowende oes voor.
Volgens die groep is dit nog te vroeg om kultivars se opbrengspotensiaal vir kanola te bepaal.
Altesaam 18 kultivars word getoets.




