Om te skou of nie te skou nie – dis die vraag vir katliefhebbers oor die hele land heen.
Carine Pelser van Malmesbury skou sedert 2016 met haar pragtige katte, en dit het ’n nuwe lewe vir haar oopgemaak.
Sy het onlangs teruggekeer van die Suid-Afrikaanse 2022- Kat van die jaar-skou in Gauteng, waar haar Devon Rex, Felix, die Taldi-trofee vir die beste Devon Rex gewen het.
Carine wou altyd graag ’n Maine Coon gehad het, maar haar oorlede man, JP, was hoogs allergies vir katte. “Ná JP se afsterwe het ek ’n Maine Coon gekoop in ’n poging om sy dood te verwerk. Ek het Bella by ’n katteler in Durban gekoop en kort daarna ’n tweede Maine Coon, Benji. Toe hierdie Durbanse teler my vertel sy kom ’n Kaapse katskou bywoon, het ek en my dogter Romy dié skou bygewoon.”
Dit was in 2016, die begin van Carine se katskoue met haar twee Maine Coons. Maar omdat haar oudste dogter, Carolize, die kat-allergie geërf het, het sy begin soek na katte wat minder allergieë veroorsaak.
“Nadat ek Felix, my eerste Devon Rex, gekoop het, het hy baie goed in sy eerste skou gedoen, maar die pandemie het katskoue vir lank gekelder. Ek het nou ’n tweede Devon Rex, Pixie. Ek skou nie met my twee gemmerkatte nie en die Maine Coons rus eers; die twee Devon Rex-katte is nou my fokus vir skoue.
“Enigeen met ’n mooi kat kan vir ’n katskou inskryf,” verduidelik Carine. “Ongeregistreerde katte word in die huiskat-afdeling ingeskryf. Om ’n geregistreerde kat in te skryf, moet die kat by die South Africa Cat Council (SACC) of Cat Association of Southern Africa (CASA) geregistreer wees.
“Om vir die Kat van die jaar (Coty) te kwalifiseer, neem ’n mens deur die jaar aan skoue deel, dan bou jou kat punte op met sy/haar plasings. 20 Wes-Kaapse katte het vanjaar vir Coty deurgedring en Felix was een van hulle.
“Elke ras moet aan sekere standaarde voldoen. Katte moet natuurlik goed versorg en skoon wees.”
Altesaam 80 katte uit die verskillende provinsies het na die SACC se 2022- Kat van die Jaar-kompetisie deurgedring. “Vir Felix om as een van 80 katte deel te neem, is reeds ’n groot prestasie.
“Elk van die 80 kat-eienaars het ’n sertifikaat tydens ’n gala-dinee ontvang, asook hope ‘goodluck charms’ wat deelnemers voorberei en uitgedeel het.
“Goodluck charms is ’n tradisie wat lankal saam met Coty kom. Dis nie verpligtend nie, maar ’n heerlike deel van die kompetisie om vir elke kat of kat-eienaar ’n geskenkie te gee. Die geskenkies word ook beoordeel en die wenner kry ’n prys.”
Carine se geskenkies was 80 gehekelde babamuise, gevul met ’n materiaal wat na katkos ruik.
Uiteindelik het Carine en Felix, wat twee jaar en tien maande oud is, van die Gauteng-kompetisie af teruggekom, waar Felix die Taldi-trofee vir die beste Devon Rex op skou gewen het. In die afdeling vir gesteriliseerde katte is hy 23ste geplaas.
“Ek wil nog lank vir Felix skou. Intussen gaan Pixie ook in September in Kaapstad begin skou.”
Ander Swartlandse deelnemers aan katskoue is Kalbaskraal se Russel Spargo, Collin Bubb en Irene Birgit Sommerfeld. Irene se Danny Boy het derde gekom in die huiskat-afdeling.
Een van die Wes-Kaapse klubs wat katskoue aanbied, Chats du Cap, poog om katskoue platteland toe te bring en bied jaarliks ’n skou by die Swellendam-landbouskou aan. Hulle het ook reeds ’n skou in Darling aangebied en wil in 2023 graag ’n skou na Malmesbury bring.




