Skokgolwe het Saterdag deur die rugbygemeenskap getrek toe die wedstryd tussen Worcester Villagers en Montagu Villagers ná slegs 17 minute gestaak is. Worcester Villagers het teen daardie tyd 7-0 voorgeloop.
Volgens inligting wat Gazette bekom het, is die wedstryd afgelas nadat van Worcester-Villa se spelers glo in ’n losgemaal gebyt en geskop is.
Voorts is een van Worcester Villagers se spelers glo met die vuis op die mond geslaan nog voordat hy op die veld gestap het.
Quintin van Rooyen, die voorsitter van die Boland-rugbyunie, het Maandagoggend bevestig dat “iets gebeur” het.
Villa se ondervoorsitter, André Swanepoel, het bevestig van sy spelers het deurgeloop.
“Daar was Saterdag ’n situasie waarin geniepsigheid teenoor ons spelers plaasgevind het. Volgens wat deur die spelers by my aangemeld is, is een speler weg van die veld af op die mond geslaan en ’n ander is deur een van ons teenstanders gebyt.
“Dat iemand teen die kop geskop is, is egter nie by my aangemeld nie,” verduidelik Swanepoel.
Een van Villa se bestuurslede, Zakarieyah Don, wat Saterdag op die King Edward-stadion was toe die wedstryd gespeel is, het gesê al die voorvalle het tydens die wedstryd gebeur, behalwe die een speler wat voor die wedstryd op die mond geslaan is.
“Dit wat gebeur het, het heeltyd buite die sig van die skeidsregter gebeur. Nadat die speler egter die bytmerke aan sy lyf aan die skeidsregter gewys het, is die wedstryd ‘afgeblaas’. Volgens die skeidsregter het hy glo telkemale voor dit ook met beide spanne se kapteins oor hul spanne gepraat. Die skeidsregter het gevoel om die wedstryd te staak, was in belang van alle spelers se veiligheid. Die ontvangs van die toeskouers was egter baie goed.”
Don verduidelik verder Montagu Villagers se voorsitter, Fernando Hoofd, het nadat die wedstryd stopgesit is, die veld se hekke gesluit en die skare oor die luidspreker toegespreek.
“Daarna was dinge rustig,” sê Don.
Gazette het Hoofd gevra of hy oor Saterdag se gebeure wou kommentaar lewer.
“Ek kan op hierdie tydstip niks sê nie. Ons moet maar Boland se protokol volg. Ek het geen kommentaar om tans te lewer nie,” het hy gesê.
Volgens Boland se voorsitter kry hy eers op ’n Maandag die verslae van die Saterdag se wedstryde.
“Ek kry ’n verslag van elke span, asook ’n verslag van die skeidsregter af. Dan sal ek daardeur lees en daarna eers met die res van die komitee kan vergader.”
Toe Gazette hom Maandag om 11:00 genader het, was hy slegs in besit van twee verslae oor die wedstryd tussen Worcester Villagers en Montagu Villagers.
“Ek het ’n rukkie gelede die tweede verslag ontvang. Ek wag nog vir die derde verslag, en dan gaan ek met die komitee vergader, waar ons dan verdere stappe oor die situasie sal bespreek,” het Van Rooyen verduidelik.
Die uitslag van dié vergadering sal glo later in die week beskikbaar wees.



