Die internasionaal erkende Suid-Afrikaanse digter, skrywer en aktivis vir gemarginaliseerde groepe – en natuurlik ’n Worcesteriet – dr. Diana Ferrus, het Vrydag 26 Augustus ’n gedigte-slypskool in The Gallery-kunsgalery in Montagu aangebied.
Die slypskool in digkuns, wat van 10:00 tot 13:00 geduur het, was deel van die Montagu-boekfees, wat van 26 tot 28 Augustus plaasgevind het.
Die handvol aanwesiges wat die slypskool bygewoon het, het behoorlik aan die 70-jarige boorling van Worcester se lippe gehang.
Die aanbieding was uitstekend en baie leersaam, maar ook vet pret.
Almal het lekker geskaterlag toe sy met die aanvang van die verrigtinge haarself voorgestel en onder meer vertel het hoe sy as kind haar ouers soms rooi van verleentheid gelaat het oor haar onvanpaste sêgoed op ongeleë tye.
Deelnemers het hulself voorgestel voordat die verrigtinge met ’n dinkoefening begin het.
Die bywoners moes saam ’n storie vertel. Die kinkel in die kabel was – elkeen – van links na regs om die tafel – moes slegs een woord op ’n keer tot die storie byvoeg. Dit moes vinnig gebeur, sonder om te dink. Maar die storie moes steeds sinvol wees.
Nodeloos om te sê watse komiese hak-en-tak gedoente dit was. Van die deelnemers het soos ’n boek toegeslaan wanneer dit hul beurt was om ’n woord aan te las om die storie verder te neem.
Na sowat drie rondes van dié “storie” het ’n praktiese oefening gevolg. Die klas moes ’n minuut lank enigiets wat in hul gedagtes opgekom het, neerskryf. Die deelnemers moes nie getalm het om te dink wat hulle wou skryf nie. Hulle moes sonder ophou skryf tot die minuut wat die oefening verstreke was.
Daarna moes die kursusgangers om die beurt hul skryfwerk hardop lees. Hoewel een of twee net ’n klompie woorde neergepen het, was die meerderheid taamlik knap om binne die sestig-sekonde-oefening ’n paar oulike gedigte saam te flans.
Met die brein behoorlik opgewarm, moes elkeen toe ’n gedig in die taal van hul keuse skryf. Selfs ’n mengsel van tale kon gebruik word.
Dit was nadat Ferrus verduidelik het wat ’n gedig is, waaruit dit bestaan asook die elemente wat in gedigte voorkom.
Hierna moes elkeen sy of haar gedig voorlees. Ferrus het dan terugvoer gegee. Sy het voorts ook geleentheid vir een-tot-een-sessies gebied.
Tydens hierdie sessies het sy leiding gegee, voorstelle aan die hand gedoen en aanbevelings gedoen oor hoe die deelnemers hul skryfstukke kon verbeter. Na gelang van haar kommentaar en opmerkings, moes elkeen sy of haar gedig self redigeer en weer voorlê. Daarna moes dit verder tot slegs agt versreëls verwerk word.
Die hele slyp-proses was baie interessant, insiggewend en aangenaam.
Die hoogtepunt van die slypskool was toe al die deelnemers die Vrydagaand hul skryfwerk voor ’n gehoor in die KWV-ouditorium voorgedra het.
By dié geleentheid het Ferrus die groeplede geprys en gesê hulle kan trots op hulself wees oor wat hulle in slegs drie ure vermag het.




