Johan Holtzhauzen en Gerhard Huysamen van André Huysamen Makelaars (AHM) in Malmesbury

Malmesbury Veiligheid (MV) is ’n waterwaentjie ryker wat nou vir brandbestrydingsdoeleindes in en om die dorp ingespan sal kan word.

Die spoggerige rooi brandbestryder, wat gebruik sal word om bystand tydens brande te bied, is die afgelope Vrydag deur lede van MV ontvang. Die inisiatief agter dié projek kom met die doel om Malmesbury en omliggende gebiede se inwoners en hul eiendom op net nóg ’n manier te beveilig.

Die waterwaentjie is moontlik gemaak deur Santam nadat dié versekeringsmaatskappy deur die plaaslike makelaar André Huysamen Makelaars (AHM) genader is om met dié projek te help.

Truter de Kock, ondervoorsitter van MV en ’n plaaslike boer, vertel van ’n soortgelyke waterwaentjie wat verlede jaar deur Santam aan die Weskus-distriksmunisipaliteit geskenk is en onder meer tydens oestyd ingespan is. De Kock het gesien dié waentjie werk en het besef dit sal tot voordeel van die dorp wees as MV ook een het.

Herman Huysamen en sy seun Gerhard by AHM is gekontak, wat op hul beurt by Santam om hulp gaan aanklop het. Volgens Franscois Eloff, verhoudingsbestuurder by Santam, het hulle nie vir ’n oomblik geskroom om te help nie, en die projek is van stapel gestuur. Die waterwaentjie is deur Henrit Agri van Malmesbury gemaak.

“Almal het dalk nie die regte toerusting nie, maar wil altyd kom help,” verduidelik De Kock. “Dit is net nóg ’n tool wat MV kan gebruik om plaaslike boere of inwoners wat weens ’n brand in nood is, met die regte toerusting by te staan. Die waentjie gaan gewis gebruik word,” voeg hy by.

De Kock het met die oorhandiging van die waentjie vol water sy dankbaarheid teenoor Santam se bereidwilligheid om met die projek te help, uitgespreek. Volgens hom sal dié waentjie verder bydra tot die suksesverhale van MV. Die waentjie sal voortaan by die beheerkamer gehuisves word.

Eloff voeg by dat dit ’n langtermynprojek was wat Vrydag suksesvol uitgerol is. “Ons almal het mekaar nodig. Al hoe ons mekaar sal kan help, is om saam te werk,” voeg hy by. De Kock sê verder dat inwoners en lede trots kan wees op MV, wat voorwaar ’n suksesverhaal is. “Dit verg baie tyd en harde werk sonder enige vergoeding, maar danksy die gemeenskap en hul lede word die netwerk elke dag sterker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article