Die geskiedenis lê diep in die stofstrate van Abbotsdale, veral met inwoners se voorvaders wat ’n goeie nalatenskap agtergelaat het.
Valery McQuire, ’n voormalige raadslid, sê gedurende die 1800’s – nadat die Britte die Anglo-boereoorlog gewen en Suid-Afrika ’n Britse kolonie geword het, het ene biskop Gray uit Engeland gekom met die opdrag om so veel as moontlik Anglikaanse kerke in die land te kom stig.
“Gray het op sy beurt gedelegeer en biskop Abbot na die noordelike gedeelte met die weskus langs noord gestuur. Só het die klein sendingstasie daar ontstaan en Abbotsdale is na biskop Gray vernoem,” vertel sy.
McQuire sê mense wat destyds in Abbotsdale wou woon, moes toestemming van die Anglikaanse kerk kry, maar dit het streng voorwaardes gehad.
“Een daarvan was dat jy so ver as moontlik moes probeer om selfonderhoudend te wees en ook elke Sondag in die kerk moes wees. Inwoners se kinders moes by die Sondagskool aansluit,” sê McQuire.
Abbotsdale was ’n romantiese plekkie waar inwoners elke aand potjiekos gemaak of gebraai het. Kerslig, lampligte, houtvuur en koolstowe was in algemene gebruik.
Sy sê die meeste inwoners van Abbotsdale besit vandag groot erwe omdat dit destyds grootliks was om tuin te maak en vee aan te hou.
“Mense wie nie waterputte of fonteine op hul erf gehad het nie, kon water in emmers by twee gemeenskaplike waterputte gaan skep,” sê McQuire.
McQuire sê van die inwoners het perdekarre gehad en dromme water vir ander inwoners teen ’n fooi aangery.
Streng reëls is uiteengesit om wasgoed te was. Een daarvan was wanneer jy in groot bondels was, mag jy slegs by ’n put was en uitspoel. Ander het weer by hul huise wasgoed met die hand gewas.
Erfhouers moes geld aan die kerk betaal het, wat beteken al besluit die eienaar om by die huidige struktuur aan te bou, moes hy die kerk betaal omdat die grond aan die kerk behoort.
Volgens McQuire was dit nie maklik om ’n erf deur die kerk te kry nie.
“Mense wat destyds langs die riviertjie in Kloofstraat gewoon het, moes skuif as gevolg van oorstromings by huise wat die kerk in Kerkstraat gebou het.”
Kort ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het die kerk huisbewoners die geleentheid gegee om hul huise te koop. ’n Bedrag van nie meer as R500 nie moes by ’n prokureur betaal word voordat eienaarskap oorgedra is.
Die Anglikaanse Kerk het ’n stuk grond in 1995 aan die destydse Malmesbury-munisipaliteit verkoop.
“Die stortingsterrein Klipkoppie was vol en moes later gerehabiliteer word,” sê McQuire.
Sy sê ’n gemeenskapsorganisasie is in 1995 gestig om die ondemokratiese optrede van die kerk te ondersoek en teen te staan.
Die gemeenskapsorganisasie fokus op die toekoms van Abbotsdale om seker te maak die inwoners trek voordeel.
Die gemeenskapsaal is in 1997 gebou, en ná ’n paar jaar – in 2015 – is die eerste speelparkie in Langstraat opgerig.
“Die speelparkie op die hoek van Winkelstraat en 3de Laan is in 2019-’20 opgerig.
Die baie uitbreidings wat in die dorp plaasvind, het egter sy nadele ook gehad.
Die omheining by die begraafplaas is gesteel en inwoners gebruik dit nou as deurgang vir Jan Alleman.”





