Ursula Adams en Rachel Fredericks, Elqeton Adams en Alzandré Jacobs se oumas. Foto’s: Anan Jacobs


Twee gr.1-leerders aan die Laurie Hugo Primêr in Moorreesburg het op 8 September in die openbare swembad op dié dorp verdrink nadat hulle vermoedelik ’n gedeelte van die draadomheining oopgebuig het om toegang te verkry.

Só sê die Swartland-munisipaliteit nadat die lykies van twee sewejariges, Alzandré Jacobs en Elqeton Adams, Vrydagoggend (9 September) deur die opsigter in die swembad gevind is.

Die munisipaliteit het by navraag gesê hulle het met “groot hartseer” verneem van die verdrinking van die twee kinders.

Volgens die munisipaliteit is al die munisipale swembaddens, insluitend die swembad in Moorreesburg, steeds vir die winterseisoen gesluit.

“Alle aanduidings is dat die kinders deur die loop van Donderdagmiddag onregmatige toegang tot die fasiliteit verkry het.

“Die swembad word deur ’n muur omhein, met ’n klein gedeelte draadheining met hakiesdraad.

“Die vermoede is dat die kinders ’n deel van die draadheining oopgebuig het om toegang tot die perseel te verkry.

“Munisipale personeel was tot ná die etensuur Donderdag op die perseel om roetine-instandhoudingswerk te doen, en het geen skade aan die heining of op die res van die perseel gesien nie.

“Die opsigter het Vrydagoggend by die perseel aangekom en die liggame van die twee kinders in die swembad gevind. Die polisie is dadelik na die toneel ontbied,” lui ’n amptelike verklaring van die munisipaliteit.

Die munisipaliteit sê aangesien die swembaddens nie tans oop is vir die publiek nie, is geen voltydse personeel aan diens nie. In die somerseisoen word die swembaddens egter voltyds deur menseredders beman, sê die munisipaliteit.

“Ons innige simpatie en medelye gaan uit na die families. Die polisie sal die saak verder ondersoek met die volle samewerking van die munisipaliteit.”

Rachel Fredericks, Alzandré se ouma, sê hy was die liefdevolste kind.

“Hy was ’n baie aangename kind en het daarvan gehou om maatjies te maak en met almal te speel,” vertel Fredericks.

Volgens haar het Alzandré altyd ná skool sy huistakies kom doen, en dan het hy by sy maatjies gaan speel.

“Ek wil aan elke ouer in ons dorp sê – hierdie is ’n tragiese situasie wat in ons dorp gebeur het. Dit is ’n hartverskeurende geval, glo my. Ons as die familie is diep geraak en wil graag alle ouers aanraai om hulle kinders te alle tye teen gevare soos hierdie te beskerm,” sê die ouma.

Fredericks het genoem sy het gedink Alzandré is by sy pa, en is die volgende oggend deur die nuus ontnugter toe ’n speurder met ’n foto van haar kleinseun by die huis opdaag om hom uit te ken.

Ursula Adams, Elqeton se ouma, moes die tragiese nuus ook op hierdie wyse aanhoor toe ’n speurder by haar werkplek aangekom het om met haar te kom praat.

Sy sê Elqeton was ’n baie spontane seun en ’n regte wysneus.

“Hy het in almal se hart gekruip en hy het vir almal iets te sê gehad. Hy was altyd ’n punt voor vir jou,” sê Adams.

Sy sê hy het altyd ná skool tyd saam met haar broer Ben deurgebring en het graag die trollie gestoot wanneer hulle twee hout vir vuurmaak gaan haal het.

“Hy het baie goed presteer op skool; hy was ’n baie slim seuntjie. Ek sou nie sê hy het ’n spesifieke vak gehad waarvan hy meer gehou het nie, want hy het in al sy vakke goed gedoen,” spog die ouma.

Volgens Adams het Elqeton soos sy ma, Jamie-lee Adams, aan atletiek deelgeneem en soos sy oupa rugby gespeel.

Sy onthou haar kleinkind as ’n woelwater wat gereeld “omgekrap het” waar sy klaar skoongemaak het.

“As hy kwaadgedoen het en ek het hom gevra wie dit of dat gedoen het, was dit nooit hy nie. Maar hy was ’n lieflike seuntjie,” sê Adams hartseer.

Die begrafnis vind Saterdagoggend (24 September) om 10:00 by Disastraat 15, Moorreesburg, plaas. . Enigiemand in die gemeenskap wat wil bydra, kan Adams by 082 233 8104 bel.

“Asseblief, ouers, pas julle kinders op; soos hulle sê – jou kind is ook my kind,” sê Adams.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article