Talle inwoners sal sy vriendelike gesig herken, maar dit is gewoonlik die klompie honde aan leibande wat saamstap, wat eerste die aandag trek.
Siya Hemp is die afgelope twee jaar ’n inwoner van Malmesbury. Hy is ook die eienaar van Strutt your Mutt. Hemp is al bekend onder inwoners op die dorp as die man wat vir ’n fooi met inwoners se honde gaan stap. Hy en ’n vriend het dié onderneming in 2015 begin. Nadat die vriend later na Engeland geëmigreer het, het Hemp die bedrywighede voortgesit.
“In die begin was sake maar aan die stadige kant, want baie inwoners was nie gewoond aan iemand anders wat hul honde vir ’n wandeling vat nie. Toe baie van hierdie inwoners sien ek stap met honde, was dit makliker om meer kliënte op te bou,” sê Hemp.
Die meeste honde waarmee hy al op een slag gestap het, is 22, maar gelukkig, sê Hemp, werk die honde almal gewoonlik mooi saam. Tog is die grootste uitdaging huiseienaars wat nie hul hekke behoorlik toemaak nie, en dan ontsnap hul honde en storm op hom en die honde by hom af.
Buiten die hondestappery is Hemp ook by die plaaslike dierewelsynsorganisasie betrokke.
Volgens hom het die situasie met honde in die gemeenskap die afgelope twee jaar vandat Covid begin het, baie agteruitgegaan. “Daar is meer geweld [teenoor] en verwaarlosing [van diere], en die bestaande wette om ons diere te beskerm, het duidelik misluk en is verouderd,” meen hy. Hemp sê as gevolg van hierdie krisis, het hy en Leandi’s Rescue Mission besluit om ’n staptog van stapel te stuur. Die Fun Walk with a Purpose vind Saterdag (1 Oktober) om 09:30 plaas. Die staptog is daarop gemik om die klem op beter wette met betrekking tot die beskerming van diere te fokus en lig te werp op die huidige probleem.
“Ek wil help om agterplaas-teling uit te skakel, en dit kan slegs deur verpligte sterilisasie gedoen word.”
Hemp sê die staptog is om bewustheid te kweek van die toestand van diere in veral die Wesbank-omgewing en hulle probeer om van die wette te laat hersien en te verander.
“Ek dink die regering moet meer mag gee aan NPO’s soos Leandi’s Rescue-sending, want hulle sien die toestand van sekere mense se honde,” sê hy.
Die stap is gratis. Mense word vriendelik gevra om vir veiligheid liefs nie hul vierpoot-kinders saam te bring vir die stap nie.
“Ons hoop om so veel as moontlik sakeondernemings en plaaslike inwoners bymekaar te bring,” sê hy. Die staptog begin by Hoërskool Swartland se rugbyveld, waarna die stappers na die Swartland-munisipaliteit se kantoor sal stap, en dan weer terug na HSS se rugbyveld.. Belangstellendes kan Siya by 060 801 8145 kontak vir nog inligting.





