Die projek om Malmesbury se poskantoorgebou op te knap, is binne 22 dae voltooi. Talle skenkers en sakelui van die dorp het hande gevat en hul hulp aangebied om hoofsaaklik die buitekant te restoureer – meestal gratis of teen veel laer tariewe.
Uiteindelik het ’n reusagtige skenking van die Mount Royal Treasury Fund die restourasieproses moontlik gemaak.
Agri Malmesbury (voorheen die Malmesbury-landbouvereniging) het in die verlede herhaaldelik rondom die poskantoorgebou skoongemaak en opgeruim en vroeg vanjaar weer die veiligheidskwessie onder die Malmesbury-sakekamer se aandag gebring omdat hulle en hul vroue nie meer in veiligheid die posbusse kon besoek nie. “Die sakekamer se bestuur het besluit om die landboumanne in hul taak te steun,” sê Brian Siebritz, die sakekamer-voorsitter. “Nadat ons verskeie moontlikhede en kwotasies ondersoek het, het ons besef dis ’n baie duur saak hierdie.”
Janus le Roux van Agri Malmesbury het ’n gesamentlike vergadering met Riaan de Jager, die SA Poskantoor se Wes-Kaapse bestuurder, leiers van die Swartland-munisipaliteit en die sakekamerbestuur gereël. In daardie stadium het Inkie Lötter reeds gereël dat Glassfit die gebou se stukkende vensters herstel – iets wat Glassfit gratis gedoen het.
Tydens bogenoemde vergadering het De Jager aangedui die SA Poskantoor het geen voorsiening vir herstel- en restourasiewerk gemaak nie. Hy het die vergadering aangemoedig om self oplossings en geld vir die projek in te samel en genoem dat Hermanus ook onlangs hul eie poskantoorgebou gerestoureer het.
De Jager se enigste versoek was dat hy ingelig bly oor die projek, dat standaard-veiligheidsmaatreëls te alle tye gehandhaaf word en dat erfenisriglyne weens die gebou se ouderdom gerespekteer word. ’n Belangrike vereiste was dat die gebou in ’n ligte kleur as deel van erfenisbepalings geverf word.
Hierna het die projek vlamgevat – eerstens met ’n gesoek na skenkers en geskikte kwotasies. Eers toe die Mount Royal Treasury Fund ’n baie groot skenking aan die projek gegee het, kon die projek op 5 September begin, en hierna het al meer mense betrokke geraak met skenkings, goedkoper dienste en selfs gratis hulp.
“Ons fokus was van die begin af om met sakeleiers en die middedorp hande te vat,” het Corlia Spies, voorsitter van die Trustfonds, gesê.
Lennard van Wyk, die sakekamerlid verantwoordelik vir die projek, het gesê die fonds is in 2007 deur die ontwikkelaar van Mount Royal Landgoed gestig en pak ongemerk talle opbouende projekte in Malmesbury aan. “Dit was ’n verrykende ondervinding om te sien hoe die gemeenskap by die projek aangesluit het om dit vorm te gee en te laat groei. Ná versoeke uit die gemeenskap het ons ook ’n oprit aangebring, wat die gebou nou toeganklik maak vir mense wat moeilik loop.”
Die hele projek sluit in die skoonspuit, seël en verf van die dak; ou geute met nuwes vervang; houtwerk herstel en behandel; ’n oprit by die voorstoep; die verf van mure, die kassiereportaal, stoepe, posbusse en parkeerstrepe; diefwering en veiligheidshekke herstel en geverf; stukkende plafon in die voorportaal vervang; watertoevoer na die toilette en badkamers herstel; buiteligte aanbring vir beveiliging van die parkeerterrein; die posbusse omhein en ligborde afhaal en nuut maak.
Klem is daarop geplaas om dienste en materiale plaaslik te bekom – in pas met die sakekamer se “koop plaaslik”-beleid.
“Al die werk is nou feitlik voltooi – ’n ware wonderwerk te midde van ons huidige ekonomiese klimaat. Ons kon nooit toelaat dat hierdie historiese gebou in ons middedorp so verval nie.”
Almal wat by die restourasieprojek betrokke was, het die hoop uitgespreek dat sakeondernemings saam met die gemeenskap verder betrokke sal raak om die dorp netjies te hou en verval te keer.
Intussen besoek Malmesbury Veiligheid veral snags hierdie omgewing ter wille van die dorp se veiligheid. . Besoek die Malmesbury-sakekamer se Facebook- en Instagram-blaaie vir die lys skenkers, diensverskaffers en mense wat hul dienste teen veel laer tariewe gelewer het.



