Tannie Sara Retief het onlangs haar 92ste verjaarsdag gevier.


Tannie Sara Retief van Malmesbury het verlede week haar 92ste verjaardag in goeie gesondheid gevier.

Die meeste Malmesbury-inwoners onthou tannie Sara vir haar betrokkenheid by Malmesbury Kwekery sedert sy en haar man, Nico Retief, oorspronklik ’n vetplant-tuin begin het.

Die kwekery het danksy hul harde werk en toewyding gegroei en deesdae is Malmesbury Kwekery ’n derdegeslagonderneming en reeds 55 jaar oud.

Tannie Sara is die oudste van 10 kinders en ses van haar sibbe verkeer nog in redelik goeie gesondheid. Sy en haar oorlede man het drie kinders, agt kleinkinders en 11 agterkleinkinders. Hul seun George het die kwekery by sy pa oorgekoop en bestuur.

In die Aandskemering-tehuis vir senior burgers, waar Tannie Sara reeds vyf jaar woon, is sy bekend vir haar liefde vir lees en brei, om bingo te speel en tuin te maak. Sy dien op Aandskemering se huiskomitee, kuier nog graag by haar familie en beïndruk steeds met haar helder brein.

“Sy het ’n positiewe geaardheid, ’n oop hand en help graag waar sy ’n behoefte sien,” vertel haar dogter Susan Smit, van Malmesbury, oor haar ma met die immergroen geaardheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article