Goeie ondersoekwerk en tegnologie is ingespan om ’n inbreker op ’n plaas in die Darling-omgewing vas te trek.
Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het die plaaslike polisie Vrydag 30 September van ’n inbraak op die betrokke plaas buite die dorp gehoor.
Kapt. Garry Stoffels en AO Edwin Isaacs het op die klagte gereageer en na die plaashuis waar ingebreek is, vertrek.
Die eienaar van die huis was nie ten tyde van die voorval tuis nie.
Daar aangekom het Stoffels en Isaacs begin ondersoek instel en vars voetspore, wat weg van die huis af in die rigting van die treinspoor lei, agter die plaashuis gevind.
Filander sê die spoor het hulle sowat 3 km verder die plaas in gelei, waarna kapt. Stoffels die plaaspatrollie vir bystand gekontak het.
’n Hommeltuigkamera (drone) is toe ingespan om die verdagte uit die lug op te spoor.
Die hommeltuig se kamera het gou die inbreker se wegkruipplek op die plaas ontbloot.
Die verdagte is aangekeer en die gesteelde goedere ter waarde van R150 000 is teruggevind.
Ná verdere ondervraging en ondersoekwerk is gevind dat die verdagte ook gesoek word in verband met die verkragting van ’n tienermeisie (15), wat net ’n paar dae tevore (op 27 September) daar naby aangeval is.
Die verdagte het Maandag (3 Oktober) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Hy word tot sy volgende hofverskyning aangehou.




