Groot kommer heers oor die toename in verkragtingsake wat in die Darling-gebied aangemeld word.

Die nuutste verkragtingsklag is gelê nadat die Darling-polisie Woensdagoggend 5 Oktober van ’n oproerigheid in die dorp ingelig is.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, is konst. Yolandi Jantjies en konst. Mitchem Fortuin na die toneel gestuur, waar hulle woedende lede van die gemeenskap aangetref het wat ’n 47-jarige man aangerand het.

Toe die polisie die mense vra waarom hulle die man aanrand, het hulle gesê hy het sy vriendin se negejarige dogter verkrag.

Filander sê die man is in hegtenis geneem en sy lewe is heel waarskynlik daardeur gered, aangesien die mense wat hom aangerand het, hom moontlik ernstig sou beseer of waarskynlik sou doodmaak as die polisie nie betyds opgedaag het nie.

Die polisie het na die kind gaan soek, en sy het erken haar ma se kêrel het haar seksueel aangerand.

Volgens die kind se verklaring aan die polisie het die man haar Saterdagaand 1 Oktober na ’n veld daar naby geneem, waar hy haar broek afgetrek en haar verkrag het.

Die kind en haar ma woon saam met dié man (haar ma se kêrel) in ’n huis.

Die kind is daarna na die hospitaal geneem om medies ondersoek te word. Sy en haar vermeende verkragter is volgens die standaardprosedure in die geval van ’n seksuele ondersoek vir forensiese bewyse ondersoek.

Die verdagte het Vrydag (7 Oktober) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

“Hierdie is die derde verkragtingsklag wat in drie weke in die Darling-omgewing aangemeld is,” sê Filander.

“Dis ’n groot bekommernis vir ons.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article