Montagu bied die gewilde Roos- en tuinbouskou later vandeesmaand in die KWV-gebou aan.

Credit: SYSTEM

MONTAGU – Die Montagu- Kulturele en opvoedkundige trust bied van 20 tot 22 Oktober sy 30ste Roos- en tuinbouskou in die KWV-gebou op die hoek van Lang- en Kohlerstraat aan.

Die trust nooi die plaaslike gemeenskap en besoekers hartlik uit om die besondere mylpaal saam te kom vier en die skou in groot getalle te ondersteun deur so veel as moontlik rose in te skryf en blomme te rangskik vir die plesier daarvan.

Dit beloof om drie dae van vet pret en heerlike samesyn met familie en vriende te wees.

Die verrigtinge begin Donderdag 20 Oktober.

Die opening van die skou self – daar is ’n tuinbesoek aan Montagu Vines vooraf op die program – vind om 14:00 in die KWV-gebou plaas en duur tot 17:00.

Die daaropvolgende twee dae (Vrydag en Saterdag) sal die skou egter om 09:00 ’n aanvang neem en tot 17:00 duur. Die toegangsfooi vir volwassenes is R10; toegang vir skoolleerders is gratis.

Die res van die skouprogram lyk as volg: ’n Teetuin sal beskikbaar wees, sowel as tuinuitstallings, tuinbesoeke en die vertoon van Odeonfilms met tuintemas.

Besprekings moet vroegtydig gedoen word.

Skougangers kan tee, koffie en smullekker eetgoed in die teetuin geniet, sowel as heerlike tuisgemaakte suurlemoen-, granaat- en rooibosteestroop geniet terwyl hulle gesellig in die binnehof ontspan.

Verder sal stalletjies met interessante tuinbykomstighede en -ornamente, Africana- botaniese boeke, tuinbeeldhouwerk en vele meer by die tuin-uitstallings beskikbaar wees om te besigtig. ’n Erdwurmplaas is deel van die skou.

Drie besonder mooi Montagu-tuine, waaronder Montagu Vines, La Rochelle en La Luna kan gedurende die skou besoek word. Die Capedry-bussie van die Cape Dried Fruit Packers-maatskappy sal belangstellendes na die onderskeie bestemmings vervoer. Sitplekbesprekings moet net vooraf gedoen word. Die fooi is R30, (vervoerkostes ingesluit).

Voorts sal pragtige blomme soos proteas, speldekussings, inkalelies, bosse fynbos en kleurvolle tuinblomme te koop wees.

Op die laaste dag sal demonstrasies en praatjies in die KWV-ouditorium tussen 11:00 en 17:00 aangebied word.

Op dieselfde dag bied Capedry ’n gratis Capedry-trekkerrittoer deur die dorp aan. Die oplaaipunt is by die KWV-gebou. Die toer vertrek om 14:00 en duur tot 16:00.

Die inskryfvorms vir deelname aan die skou is beskikbaar by die KWV-gebou en die Montagu-toerismekantoor.

Uitstallers kan só inskryf:. Enkel rose: Alle afdelings. Enige aantal inskrywings vir R20.. Rangskikkings: Slegs rose of rose in ’n kombinasie van eie keuse.

Die rose of rangskikkings sal egter nie beoordeel word nie.

Die doel is om ’n merkwaardige mylpaal te vier en die dag te geniet, maar ook om blommeliefhebbers en -rangskikkers weer die geleentheid te bied om hul passie weer ’n keer behoorlik te kan uitleef.

Bel Madré Oosthuizen by 072 397 4710 of besoek die KWV-gebou op weeksdae gedurende 10:00 tot 13:00 en 14:00 tot 16:00 vir verdere navrae en besprekings. . Inligting verskaf deur: Jeanne Biesenbach (Trustee)

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article