Die nuutgestigte buurtwag wat die middedorp dek, hou Woensdag ’n vergadering en nooi die gemeenskap en belanghebbendes om dit by te woon.
Richard Joseph, die voorsitter, sê die gemeenskap het ’n noodkreet vir ’n buurtwag in hierdie spesifieke gebied geopper.
“Die gemeenskap kla al lank oor misdaad in die middedorp. ’n Paar maande gelede is iets op ’n WhatsApp-groep oor ’n buurtwag genoem. ’n Vergadering is gereël. Niemand wou die taak opneem nie, toe besluit ek om dit te doen,” verduidelik Joseph.
Tot nou is nog net goeie terugvoer ontvang met goeie belangstelling van die gemeenskap.
“Met ons eerste vergadering het meer as 70 mense opgedaag, en ons ledetal staan tans op 113. Ons werk ook reeds nou saam met die Robertson-polisie asook die gemeenskapspolisiëringsforum.”
Joseph verduidelik hy en die res van die komitee is besig om die buurtwag is ’n organisasie sonder winsoogmerk te laat registreer.
“Om as ’n organisasie sonder winsoogmerk te registreer, is een van die vereistes dat ons ’n grondwet moet hê en dat dit deur die gemeenskap goedgekeur moet word. Ons het die grondwet opgestel en hou eersdaags ’n vergadering waar dit dan aan die gemeenskap voorgelê sal word.”
Ná die goedkeuring van die grondwet sal die buurtwag met sy patrollies kan voortgaan.
Joseph nooi ook enigeen wat wil help, om by die buurtwag aan te sluit.
Die vergadering word Woensdag 12 Oktober om 18:00 by Hoërskool Robertson se saal gehou. . Kontak Richard Joseph by richard@amare.co.za vir nog inligting of om by die nuwe buurtwag aan te sluit.


