Die 32-jarige Angelo September van Worcester – en oorspronklik van Ashton – se lewe het tragies tot ’n einde gekom toe hy en ’n vriend verlede week in ’n botsing in Gauteng betrokke was.
September, ’n boorling van Ashton en wat in 2014 ’n volwaardige Worcesteriet geword het, is Donderdag 6 Oktober dood toe die motor waarin hy en ’n vriend gery het, op die N14 naby Krugersdorp gerol en toe teen ’n boom gebots het.
Sy vriend, Mario Payne (29), oorspronklik van Bonnievale, het aan Gazette verduidelik dat die ongeluk baie vinnig gebeur het en dat dit steeds by hom spook.
“Angelo het vir ’n paar weke by my kom kuier om hierdie kant werk te soek. Hy was sedert einde Julie by my. Ek is al so drie jaar hier en wou hom help om werk te kry nadat sy vorige werk nie uitgewerk het nie. Ons het die aand sowat 22:00 se kant van Pretoria af na my huis in Krugersdorp gery toe ek beheer oor die kar verloor het. Ons het gerol en die volgende oomblik het ek net ’n harde slag gehoor. Alles het soos petrol geruik en dit was ewe skielik donker.”
September se grootmaakma, Gwendoline Stoffels, is dieselfde aand nog deur polisie gekontak en is die nuus meegedeel dat Angelo op slag dood is. “Ek het nooit verwag om so ’n oproep te kry nie. Ek was nou by my huis (in Ceres) en moes dadelik gaan sit het. Die nuus het my te veel geskok. Hy was so ’n saggeaarde mens en so lief vir sy familie,” vertel sy tranerig.
Payne het ook aan Gazette vertel hy self het net sy arm beseer, maar sy vriend se afsterwe laat hom steeds met soveel vrae.
“Hoe kan ek lewendig uit die voertuig klim met amper geen skrape nie en my vriend is dood? Dit is nie regverdig nie. Hy was ’n yster; hy was ’n vriend soos min.”
Volgens verslae blyk dit September het ’n hou aan die kop weg en het as gevolg van inwendige bloeding beswyk.
“Angelo het gesukkel met werk en wou hom net help om iets beter te soek. Ek het hom dit gegun, maar het geweet ek moes hom hier probeer hou. Werk is net so skaars en hy was regtig opgewonde om te kon gaan, maar toe draai dit so uit. Ek sal hom altyd mis,” het Stoffels bygevoeg.
September sal in Gauteng veras word en sy oorskot sal saam met Payne na Worcester kom sodra hulle ’n datum bepaal het.
“Ek wil dit graag vir tannie Gwen neem. Dit is my plig. Ons het reeds gepraat oor waar ons dit moontlik kan gaan strooi.”





