Borskanker het al talle vroue (en selfs mans) se lewe onherroeplik verander. Iemand wat daarvan kan getuig, is Sandra Mynhardt (51), wat van Robertson na Worcester getrek het.
Mynhardt vier vandeesweek vier jaar sedert sy in remissie is nadat borskanker in 2017 by haar gediagnoseer is.
“Dit het my lewe verander. Ja, dit was die slegste ding wat met my gebeur het, maar ook in ’n mate die beste ding.”
Vroue kry verskillende soorte borskanker, maar ’n aggressiewe vorm van Phyllodes-kanker is by Mynhardt gediagnoseer nadat sy pynlike knoppe op haar borste ontwikkel het.
“Ek het een oggend opgestaan en nie myself gevoel nie. Ek het gevoel asof daar knoppe op my borste is en het dit oorweeg of ek dokter toe moet gaan of nie. Ek het ’n afspraak gemaak en die kanker is bykans ’n week later gediagnoseer. Dit het gevoel of my wêreld inmekaar tuimel.”
Op daardie tydstip het Mynhardt as ’n skakelbeampte gewerk en terselfdertyd deur ’n egskeiding gegaan. Sy het twee jaar tevore ook ’n kind aan ’n miskraam verloor.
“Ek het dae lank gehuil. Ek het getreur asof ek reeds dood is. Ek het gedink ‘wat moet ek nog verloor’?”
Haar ma, Letitia, ook ’n inwoner van Worcester, het vir ’n rukkie by haar dogter ingetrek en haar deur die proses gelei.
“My ma was my rots. Ons het altyd vasgesit en ons kon net nie om dieselfde vuur sit nie, maar hierdie het ons nader aanmekaar gebring. Ek het die waarde in my familie en vriende raakgesien en ook in die rofste tyd in my lewe die waarde in myself begin raaksien,” verduidelik Mynhardt.
Sy het bestraling gehad en is deur ’n spesialis in die Paarl geopereer. Haar herstelproses was egter nie maklik nie.
“Ek het die hele tyd goor gevoel. Ek het sommige dae gevoel of ek nie wil opstaan nie en het in die bed gebly. Buiten die depressie het ek my werk gelos en moes self al my mediese kostes dra. My ouers was weer eens my rots. Ek kon net op herstel fokus, en daarvoor is ek dankbaar.”
Mynhardt sê sy is vandag kanker-vry en gaan jaarliks vir ’n opvolgbesoek.
“Gaan en laat doen gereeld ’n mammogram. Wees eerder seker en vertrou die dokters. Dit is nie maklik nie, maar niks in die lewe is vanselfsprekend nie. Wees geduldig en maak staat op familie en vriende. Kanker is nie ’n doodsvonnis nie.”





