’n Inwoner van die Montagu-omgewing is onlangs deur ’n pofadder gebyt en het ’n duur les geleer oor slange en algemene slangveiligheid.
So meen die plaaslike slangvanger en -kenner Gerrie Heyns (49). Heyns werk al sedert sy laerskooldae met reptiele, maar het hierdie passie sowat agt jaar gelede in ’n beroep omgeskep.
“Ek het in die vorige slangseisoen sowat 366 slange in die gebied gered, waarvan 194 Kaapse kobras was.”
Hy sê kobras, boomslange en pofadders kom gereeld te voorskyn en hierdie drie spesies is die gevaarlikste.
“ ’n Slang moet letterlik en figuurlik nie sonder handskoene aangepak word nie. Hulle is gevaarlik en kan vinnig bedreig voel en dan optree. Dit is in hulle natuur,” voeg hy by.
Heyns sê ook indien inwoners enige slang teëkom, moet hulle eerder ’n tree terug gee, maar hul oë op die slang hou.
“Bel dan dadelik ’n slangvanger. Moenie self probeer optree nie. Jy kan gebyt word en jy kan sterf mits jy nie dan die regte hulp kry nie. Dit is vermybaar.”
Hy sê ’n inwoner het onlangs ’n pofadder agter die kop probeer vang en het toe in groot moeilikheid beland.
“Jy kan nie ’n slang net enige plek optel nie. Jy moet die regte kennis hê. Die situasie kon vermy gewees het, maar die man is toe gepik.”
Heyns sê iemand wat deur ‘n slang gebyt is, moet dadelik by ’n hospitaal uitkom en het baie min tyd om dit te doen. Hy voeg by dit is ’n duur les vir iemand om te leer en behandeling is ook nie ’n maklike of eenvoudige taak met een korrekte antwoord nie.
“Bel net die slangvanger – iemand wat gesertifiseer is en iemand wat sal kan help. Dis so maklik soos dit. Dit is nou weer slangseisoen. Wees op die uitkyk en wees waaksaam,” sluit Heyns af.. Heyns werk in gebiede soos Ashton, Swellendam, Barrydale, die Koo, Bonnievale, Robertson en nog meer.
Hy is ook alle ure beskikbaar.
Iemand in nood kan Heyns enige tyd van die dag of nag by 063 556 6338 kontak.




