Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ’n gesogte internasionale toekenning ontvang danksy die sukses in sy lede se werk om mense te bly red.
Dié prys volg nadat die NSRI in Maart vanjaar sy heel eerste Oorlewing-swemsentrum in Riebeek-Kasteel geopen het. Die inisiatief het juis daarop gefokus om die groot verdrinkingsyfer in die land die hoof te bied deur kinders, wat nie noodwendig toegang tot swemfasiliteite het óf swemlesse kan bekostig nie, te leer swem. Veilige toegang tot skoon water om te kan leer swem, veral in minder bevoorregte dele van die land, was ook ’n uitdaging waarmee die NSRI wou help.
Volgens Andrew Ingram, die NSRI se bestuurder van die Drowning Prevention-inisiatief, is hulle baie opgewonde oor dié toekenning, naamlik die Internasionale maritieme reddingsfederasie (IMRF) -prys vir sy innoverende Oorlewing-swemsentrums.
Ingram beskryf die oorwinning as ongelooflik nadat die NSRI op internasionale vlak teen van die rykste reddingsdienste ter wêreld meegeding het.
Die plaaslike NSRI het ’n eerste plek in die afdeling “innovasie en tegnologie” gewen.
Ingram sê dié prestasie wys net weer hoe vernuwend is die instituut se vrywilligers en betrokkenes in hul voortdurende strewe om mense te red.
Ingram het vroeër vanjaar gesê dié sentrum in Riebeek-Kasteel poog om twee kritiese probleme te konfronteer – om minder bevoorregte kinders toegang tot skoon en veilige swemfasiliteite te gee, waaroor baie gemeenskappe nie beskik nie, asook om gratis swemlesse aan te bied.
Hy het verlede Woensdag weer klem daarop gelê dat dié inisiatief deur borge en skenkers moontlik gemaak is, wat die NSRI in staat stel om meer te doen as byvoorbeeld sommige swemskole of ondernemings wat ook swemlesse aanbied.
“Alles is geborg – van die skeepsvraghouers tot die wêreldklastegnologie wat daarmee gepaard gaan.”
Die Oorlewing-swemsentrum, wat ’n 12 meter lange skeepsvraghouer as swembad gebruik, is op 11 Maart vanjaar by Meiring Primêre Skool geopen. Die skeepsvraghouer huisves verder ’n ses meter lange swembad van een meter diep om te verseker dat jonger kinders gemaklik daarin kan staan. Die sentrum het ook ’n kantoor vir die sweminstrukteur asook aantrekfasiliteite.
Danksy die aard van die skeepsvraghouer kan geen toegang tot die swembad verkry word wanneer swemlesse nie aangebied word nie.
Die swemfasiliteit is ook volkome toegerus met die nuutste tegnologie en moniteringsondersteuning.
Die NSRI het al verskeie toekennings deur dié internasionale federasie ontvang deur voortdurend met inisiatiewe vorendag te kom wat boonop suksesvol uitgerol word.





