Die Yzerfontein-buurtwag pronk deesdae met 517 lede.
Só vertel die trotse voorsitter, Koos Liebenberg.
In ’n onlangse vergadering met ’n opkoms van oor die 200 mense is gebeure en statistieke ’n tweede keer vanjaar met die Yzerfontein-inwoners gedeel.
Volgens Liebenberg het die buurtwag sowat 70 aktiewe lede. Hy vertel van ’n nagdiensgroep wat oor die 100 uur per maand se diens aflê, terwyl die dagdiensgroep meer as 30 uur van hul tyd per maand afstaan. Dan is daar nog toegewyde stappers en fietsryers, ook lede wat hul deel doen en oor die 100 uur se diens gee om die kusdorp aan die Swartland te probeer beveilig deur waaksaam te wees.
Yzerfontein se buurtwag is deel van 322 formeel geakkrediteerde buurtwagte in die Wes-Kaap.
Hoewel die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid teen druktyd nog nie kon bevestig of Yzerfontein se buurtwag een van die grootstes in die land is nie, is die ledetal volgens Liebenberg steeds indrukwekkend.
Hulle was in 2015 die tweede grootste buurtwag net in die Vredenburg-polisiegebiedseenheid (kluster) nadat dié buurtwag maar vier jaar tevore – in 2011 – tot stand gekom het.
Misdaad het veral die afgelope vier jaar afgeneem terwyl suksesverhale toegeneem het. Sedert die 23 misdaadgevalle wat in 2018 en 2019 deur die buurtwag aangemeld is (sonder enige inhegtenisnemings) word misdadigers deesdae suksesvol vasgetrek en in hegtenis geneem.
Liebenberg skryf dit toe aan entoesiastiese en toegewyde lede wat as ’n span saam met die plaaslike polisie, Darling- landelike veiligheid, die Yzerfontein-inwonersvereniging en plaaslike veiligheidsagentskappe werk.
“Sukses lê in die feit dat ons goeie reaksie kan bied wanneer ons van ’n voorval in kennis gestel word,” voeg Liebenberg by.




