Koring word só op die plaas Konstansia buite Riebeek-Kasteel geoes. Foto: Samuel Walters


Talle plaaslike graanprodusente in die omgewing van die Swartland het reeds begin oes, terwyl sommige nog geduldig wag om hul stropers aan te skakel. Buiten ongunstige produksietoestande gedurende planttyd, is vanjaar se graanprodusente ook onderhewig aan wisselvallige en onvoorsiene marktoestande.

Só sê Heleen Viljoen, ’n landbou-ekonoom by Graan SA. Volgens haar het die plaaslike koringmark in 2021-’22 ’n besonderse goeie jaar beleef met die grootste produksie sedert die 2002-’03-seisoen. Die 2021-’22-seisoen se algehele oes van 2,29 miljoen ton is opgelewer deur die hoogste opbrengs per hektaar (4,36 t/ha) wat nog in Suid-Afrika aangemeld is. Die 2022-’23-seisoen se vooruitsigte lyk egter minder belowend as die vorige twee seisoene.

Volgens haar verteenwoordig die Swartland tussen 65% en 75% van die algehele Wes-Kaapse koringproduksie. Onvoldoende reën in die Wes-Kaap – veral die Swartland – het ’n uitwerking op hierdie seisoen se opbrengste.

Die jongste oesskatting, gedoen deur die Oesskattingskomitee, voorspel ’n opbrengs van 2,7ton/ha vir die Wes-Kaap. Dit is onveranderd van September se voorspelling. Dit is effens onder die 10-jaar-gemiddelde van 2,83 ton/ha. Die aangeplante dele het wel nie afgeneem van die vorige seisoen nie, maar met laer opbrengste is die voorspelde produksie vir die Wes-Kaap 23% laer vir die 2022-’23-seisoen. “Dit is grotendeels te danke aan droogtetoestande tydens planttyd, wat reeds die produksieseisoen met twee tot drie weke aangeskuif het, en ook te min reën tydens die kritiese groeistadiums. Die gebied van Swellendam tot Albertinia/Mosselbaai is die meeste hierdeur geraak,” verduidelik sy.

“Omdat die grootste gedeelte van die koringoes in die middel van November en Desember gelewer word, kan ’n mate van seisoenale afwaartse druk op plaaslike pryse geplaas word. Die Desember-koringkontrak verhandel op die oomblik 30% hoër as verlede jaar hierdie tyd. Die mark is vanjaar oorheers deur weernuus asook die Rusland/Oekraïne-oorlog,” verduidelik Viljoen.

“ ’n Rekordbrekende 792 miljoen ton koring word voorspel om wêreldwyd in 2022-’23 gestroop te word. Dit is ’n styging van 1% teenoor die vorige jaar. Groot opbrengste word in die VSA, Kanada, Kazakstan, China, Turkye en die Verenigde Koninkryk verwag, wat hierdie verbetering sal aanhelp. Dit het gehelp om die verwagte oesverlies in die EU, Australië, die Oekraïne, Argentinië en Indië te verdoesel. Met die uitsondering van die Oekraïne is die voorspelde daling in koringproduksie in ander nasies meestal die gevolg van ongunstige weer. Die voorspelling is dat koringpryse in die korter termyn ondersteun sal bly. Die mark is egter steeds wisselvallig en reageer op enige nuus oor die oorlog,” brei Viljoen uit.

Sy sê omdat Suid-Afrika hoofsaaklik produkte moet invoer om die plaaslike aanvraag te bevredig, word die plaaslike pryse deur internasionale tendense bepaal.

“As ons plaaslike produksie afneem, sal ons meer koring moet invoer – iets wat plaaslike pryse na invoerpariteit sal laat vaar. Die plaaslike vraag na koring bly redelik bestendig, met menslike verbruik wat die grootste gedeelte van die algehele vraag behels.”

Hentie Smit, ’n graanprodusent en die voorsitter van Agri Malmesbury se koringstudiegroep, sê produsente in die Swartland verwag steeds ’n ondergemiddelde oes, maar is wel in hul skik met wat sover opgelewer is. Waar sommige produsente kampe van 2,2 t/ha koring geoes het, verwag ander tot 3,3 t/ha koring. Hoewel die tonnemaat nog nie produsente se algehele gemiddelde weerspieël nie, bly hulle steeds positief.

Gerugte doen selfs die ronde van ’n boer wat 3 t/ha kanola geoes het. Hy sê die onlangse reënval en haelbuie wat plek-plek oor die Swartland uitgesak het, was nie gewens nie. Minimale skade is wel aan die kanola aangerig, maar geen sprake van skade is tot dusver onder produsente se koring aangemeld nie.

Sommige produsente het maar 1 mm reën aangeteken, terwyl ander – met slegs ’n grensdraad tussen hulle – tussen 12mm tot 40mm reën gehad het.

André Kirsten van Darling, wat reeds twee weke gelede kanola begin oes het, sê vanjaar se opbrengste in die Darling-omgewing is nie gewens nie. Hoewel die stamme dik was en hy baie plante gehad het, het dit nie baie pitte gelewer nie.

“Die afgelope reën in die Darling-omgewing was wisselvallig.”

Kirsten sê hy is bewus van een boer wie se kanola wel groot skade in ’n haelbui gely het.

Op ’n vraag of hy volgende jaar weer kanola gaan plant, is die vraag volgens hom eerder of hy dit sal kan bekostig.

“Ons moet eers kyk of ons ons insetkoste terugkry,” voeg hy by.

Amelia van der Westhuyzen, wat saam met haar pa in die omgewing van Moorreesburg en Gouda boer, het op 25 Oktober reeds kanola begin oes.

Volgens haar het hulle aansienlik vroeër as ander jare begin. Hul koring was kort daarna reg vir oes. Volgens haar is hul opbrengste vanjaar sleg en tonne swak, maar die proteïene – wat hul koring betref – is gelukkig goed, wat goeie gradering beteken. Hulle het voor oestyd gehoop op ’n gemiddelde van 3,6t/ha, maar vanjaar se oes het nog nie soveel opgelewer nie (gemiddeld 2,2t/ha). Hoewel hulle ook reën gekry het, het geen hael darem geval nie.

Die Van der Westhuyzens, wat reeds langer as 30 jaar boer, het nog nooit so min kaf op die lande ervaar nie. Sy voorspel die kafbale gaan min wees, terwyl die prys per kafbaal op sy beurt sal styg.

Olivier Slabbert, wat tussen Moorreesburg en Hopefield boer, sê vanjaar se opbrengste onder kanola het plaaslike produsente in daardie omgewing verbaas en baie is aangenaam verras. Baie produsente daar het tussen sowat 1,2 en 1,5 t/ha gekry, terwyl die koringoes sover ’n gemiddelde oes oplewer. Die grade is vanjaar uitstekend, voeg hy by.

Slabbert sê opbrengste wissel tussen 2t/ha en 2,5t/ha, wat ’n gemiddelde oes vir hulle beteken.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article