Moorreesburg se inwoners is trots oor die jong SA karatekampioen in sy geledere.
Die 13-jarige Ané Kemp het onlangs by die nasionale Okinawa Goju Ryu Karate Do Kyokai (die OGKK-kampioenskap) wat op 16 Julie by die DF Malan-sentrum in Stellenbosch gehou is, goed presteer.
Sy het ’n goue medalje in Irikumi, ’n silwermedalje in San dan Ghi en ’n brons vir individuele Kata verwerf.
Ané het ook na afloop van haar mooi prestasies Suid-Afrikaanse nasionale kleure ontvang.
Ané, ’n leerder aan die Hoërskool Dirkie Uys, beoefen karate al vandat sy vyf jaar oud is. Sy het aanvanklik eers netbal gespeel, maar later besef sy wil meer aktief by karate betrokke raak. Nou hoop sy om as jongeling ’n verskil in dié sport te maak.
Hierdie talentvolle meisie vaar nie net goed in karate nie, maar hou ook daarvan om in haar vrye tyd klavier te speel en te swem.
“Ek speel klavier al agt jaar lank, maar swem laat my beter ontspan,” sê sy.
Ané sê sy oefen haar karate twee keer per week maar omdat dit nou eksamentyd is, oefen sy net een keer per week.
Sy sê haar sensei, Johannes van der Merwe, motiveer haar by elke oefening om nie net hard te oefen nie, maar ook die sport self te geniet wanneer hulle oefen.
Sy is tans besig om haar Kata-styl te verbeter.





