Om bewusmaking rakende uitdagings in die lewe te skep, het die Darling-inwoner Jonathan Ruiters ’n boek, Kronkelpaaie van die lewe, geskryf.
Dit is sy heel eerste boek en gaan oor die verskillende uitdagings waardeur mense alledaags gaan. Dit sluit in dwelmprobleme, alkohol, bendes en selfs die Khoisan se stryd en soveel meer.
“Die inspirasie agter die boek is om mense te laat besef onder watter moeilike omstandighede gemeenskappe kan ly,” vertel Ruiters.
“Dit dien ook as ’n middel om kinders in Afrikaans te leer klank, skryf en lees, wat help om die taal te bevorder,” sê die nuweling-skrywer.
Die boek het Ruiters 10 jaar geneem om te voltooi – iets waarop hy vandag baie trots is.
“Die lekkerste gedeelte van die boek was om myself in my skryfwerk uit te leef.”
Ruiters moedig opkomende skrywers aan om te begin en eenvoudig te skryf. “Leef jou skryftalent uit; jy sal nooit weet totdat jy begin skryf nie.”
Ruiters het wel hulp nodig om sy boek bekend te stel. Lesers wat ’n finansiële bydrae wil lewer, kan hom by 073 339 5196 bel.





