CALEDON – ’n Titaniese rugbystryd het Saterdag (12 November) op die Caledon-sportterrein gewoed waar die Caledon- en Montagu-rugbyklub in ’n vierderondeuitspeelwedstryd van Boland se Top-12-kompetisie swaarde gekruis het.
Die tuisspan moes teen die einde kwaai walgooi om ’n begeesterde Montagu-span, wat maar net nie wou bes gee nie, weg van sy doellyn te hou.
Die eindtelling was uiteindelik 22-20 in Caledon se guns nadat die tuisspan rustyd slegs 5-3 voor was.
Montagu, wat in die eerste helfte met ’n sterk wind in die blad gespeel het, het Caledon aanvanklik onder geweldige druk geplaas.
Die besoekers het vroeg in die wedstryd in die tuisspan se kwartgebied geboer, maar ’n magdom foute asook rotsvaste verdediging deur Caledon het verhoed dat Montagu munt kon slaan uit die gebiedsvoordeel wat hy op daardie tydstip geniet het.
Nietemin het ’n strafdoel, deur Ryan George, Montagu se skrumskakel, sy span vir ’n rukkie laat voorloop voordat Lorenzo Swarts, Caledon se heelagter, die bal in die hande gekry en op loop gegaan het.
Lorenzo het ’n verdediger geklop en toe na Stanley Frans (regtervleuel) uitgegee, wat rieme neergelê het doellyn toe en in die regterhoekie oor is.
Lorenzo se doelskop was mis, maar sy span het toe die voortou met die telling 5-3 geneem.
Die telling het tot waterdrinktyd so gebly.
Ná rustyd het Caledon sy tweede drie gedruk.
Montagu is vyf meter van sy doellyn gestraf en Dylin Jacobs (skrumskakel) het ’n vinnige tikskoppie geneem.
Ná twee fases spel is die bal agtertoe gespeel – na die losskakel, David Botha, wat ’n lang aangee na Frans geslinger het. Frans het op sy beurt vir Jonathan Wabatyalaka (flank) gevoer, wat in die regterhoekie oorgeduik het.
Dié doelskop was ook nie daar nie, maar die telling het tot 10-3 in die guns van Caledon gegroei.
Montagu se eerste drie het eers in die omgewing van die 52ste minuut van die wedstryd gekom.
Die besoekers het die tuisspan se doellyn meedoënloos aangeval.
Caledon het verbete verdedig, maar is verskeie kere gestraf voordat Cleve Malgas (heelagter en kaptein) die bal ontvang en Tain-Randall Booysen, woelige kantman van Montagu, vir ’n pragdrie oor die doellyn gestuur het.
Dié doelskop was ook mis, maar die telling het aangeskuif na 10-8 met Caledon steeds voor.
Nie lank ná Montagu se drie het Caledon se buitesenter, Dylan May, egter swak verdediging aan die kant van Montagu uitgebuit en deurgesny vir sy span se derde drie, wat die telling 15-8 gemaak het.
Lorenzo se doelskop ná Dylan se drie het egter so ’n bietjie verwarring veroorsaak en ook die ondersteuners erg onthuts gehad.
Die rede: dit het gelyk of die skop oor was en albei lynregters se vlae het omhoog geskiet.
Die skeidsregter, Shane Muller, het egter onmiddellik sy arms dwars geswaai – ’n teken dat die skop mis was – en die ekstra twee punte kon nie bygevoeg word nie.
Nou ja, die skeidsregter se beslissing is finaal en die telling het dus op 15-8 gebly.
Die armdrukstryd het egter voortgeduur en in die 68ste minuut het Montagu sy tweede drie aangeteken toe Tain-Randall ná ’n goeie skrum die bal opgetel en met brute krag oor die doellyn gebeur het vir sy, asook die span, se tweede drie.
Die doelskop was links verby, maar Montagu se agterstand het verklein na slegs twee punte met die telling 15-13.
Kort hierna was Caledon se ondersteuners egter in ekstase toe Rowan Henike (plaasvervanger) die span se bonuspuntdrie gaan druk.
Lorenzo se doelskop was in die kol en Caledon het, met min speeltyd oor, 22-13 voorgeloop.
Die draers van die blou en wit truie is egter manne wat speel totdat die vet tannie gesing het, en dié het op daardie tydstip nog nie ’n geluid gemaak nie.
Dus het Montagu ná hervatting van die spel met ’n verwoede en doelgerigte aanslag gekom.
Reagan Visser (vleuel) het in dié aanval ’n verdediger geklop en die bal na binne vir Mac-John Daniels (binnesenter) aangegee, wat tekkies uitgepak het doellyn toe vir ’n skitter-drie agter die pale.
Ryan het die maklike doelskop vinnig oorgeklits, wat die telling op 22-20 te staan gebring en sy span binne bereik van ’n oorwinning gebring het.
Hoewel Montagu daarna weer sterk aangeval en byna die Caledon-ondersteuners se vreugdevure geblus het, het die tyd uitgeloop met die tuisspan wat die opwindende stryd naelskraaps gewen het.





