’n Juffrou van Robertson is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning nadat kanker vroeër vanjaar ’n tweede keer by haar gediagnoseer is.
Monica Lotter (46), ’n graad 2-onderwyser by die Logos Christen Skool in Robertson, het in 2012 uit Potchefstroom na Robertson verhuis. Borskanker is die eerste keer in 2008 by haar gediagnoseer.
“Ek was 13 jaar in remissie. Dit was ’n moeilike pad, maar ek is gelei tot in Robertson en was vir lank deel van Kansa se Relay for Life.
Ek het in Mei vanjaar my gereelde opvolgondersoek ondergaan, waar die dokters toe die tumor opgespoor het. Drievoudige negatiewe borskanker is gediagnoseer,” vertel Monica aan Gazette.
Sy was egter tussen haar kollegas toe sy daardie hartbrekende nuus ontvang het.
“Toe ek die oproep ontvang, was my kollegas by my. Ons het eintlik ná die tyd lekker gelag, want in plaas van hulle wat my troos, het ek hulle getroos.”
Monica sê dit was moeilik om die nuus aan haar man en drie kinders te breek.
“Dit is nie die soort nuus wat jy vir jou gesin wil gee nie – veral nie die jaar waarin jou seun matriek skryf, jou oudste dogter ’n finalejaarstudent is en jou jongste nog so klein is nie. Ons het saam gesit en al hul vrae beantwoord – selfs die moeilike ‘maar mamma, wat as?-vrae.’ Hierdie pad is ’n pad wat jy in geloof stap, as gesin saam oor bid, huil en lag,” vertel Monica verder.
Intussen het Monica al ses chemosessies en 30 bestralingsessies ondergaan.
“Elke chemosessie waardeur ek is, was vir ons iets om te vier en ’n oomblik om dankie te sê aan die Here vir Sy genade met die behandeling. Glo my, dit was nie altyd maanskyn en rose nie – daar was dae wat ek wou opgee; wat ek nie geweet het wat die toekoms inhou nie, maar dit is juis dan wat die Here engele oor jou pad stuur wat opdaag met kos of jou bel en jou laat lag.”
Sy sê haar leerders het selfs vir haar briefies geskryf en vriende en vriendinne het haar gereeld met kuiertjies verras.
“Die Here weet presies wat ons nodig het. Ja, dis dalk nie die pad wat ek sou wou stap nie, maar hierdie pad stap ons elkeen saam met Hom.
“Hy dra ons hierdeur, lig ons op en steek ons weg wanneer dit nodig is.”
Monica is gister (14 November) na die Louis Leipoldt-hospitaal vir ’n spesiale behandeling waar sy ingespuit word met radioaktiewe stof onder haar regterarm (oksel).
Tydens die groot operasie vandag (15 November) in die MediClinic Durbanville gaan dokters die nodes “aktiveer” om die limfkliere onder haar regterarm uit te haal.
Sy sal ook ’n dubbele mastektomie en ondergaan en borsrekonstruksie ontvang en van haar vrouedele gaan ook verwyder word.
“Hierdie operasies word gedoen omdat dit my tweede stryd met kanker is en ook omdat my gene aangedui het dat dit aggressief is en dalk kan terugkom.
“Dit val by vroue ons borste en eierstokke aan – daarom die verwydering van alles. Dit is ’n lang pad van herstel, maar ons is net dankbaar die einde is in sig,” sê Monica aan Gazette.
Talle sakeondernemings en organisasies in die streek het die afgelope tyd insamelingsprojekte gehou om Monica en haar gesin verder by te staan. Robertson Superspar het byvoorbeeld spesiale hamburger-dae gehad waar die meeste van die geld aan haar geskenk is.
“Dankbaar is so ’n klein woordjie, maar dit beteken soveel meer. Die Robertson-gemeenskap het ons as gesin toegevou in hul liefde. Ons tafels het gekreun van die lekkerste etes, saamrygeleenthede en soveel meer. Selfs noudat die medies nie alle kostes dek nie, het vriendinne plan gemaak en die mense van ons dorpie en ook reg oor ons land heen het hul harte vir ons oopgemaak. Sakelui in die dorp het met hul eie inisiatiewe gekom en ook met bydraes gehelp. Ons harte loop oor van God se guns en hoe Hy – in tye wat dit vir almal rof is – steeds mense laat uitreik na ander. Namens my, George en die kinders, kan ons net dankie sê. Mag die Here julle in oorvloed seën vir wat julle vir ons doen.”
Monica sluit af en sê sy het hoop vir diegene wat sukkel – sy het haar probleme by die Here se voete geplaas.
“Aan elkeen wat vandag hierdie artikel lees, wil ek sê daar is gewis hoop.
“Ja, die toekoms lyk dalk donker, maar dit hang van jou af hoe jy hierdie toekoms gaan aanpak. Met Jesus aan jou kant, kan jy die pad stap.
“Omring jou met mense wat vir jou lief en goed is. Vat dit dag vir dag en soek die mooi in elke dag, al is dit net iets kleins. Wees goed vir jouself en gee jouself kans om te huil, skree en gil.
“Maar staan weer op en plaas jou fokus op Hom, wat lewe gee.”





