“Malmesbury bied die mooiste oefenroetes – ek en my hond Majoor het onsself gereeld in die koppies en op plaaspaaie bevind,” sê Christopher van der Walt.Foto: Lise Rheeder/Wonder Fotografie


Christopher van der Walt van Malmesbury neem oor twee weke aan die wêreld-driekamp-kampioenskap in Abu Dhabi deel, maar eers moet hierdie 29-jarige sy tweede M-verhandeling voltooi.

Christopher het in 2019 as stads- en streeksbeplanner by CK Rumboll en vennote begin werk. “Ek het met ’n beseerde regterknie hier aangekom en volgens dokters moes ek nooit weer draf nie. Danksy Malmesbury se aangename sportmense het ek by driekamp betrokke geraak.”

Christopher het in sy skooljare in Delmas, Abu Dhabi en Katar op spansporte en swem gefokus. Sy ouers is sportwetenskaplikes en gee reeds 21 jaar skool in die buiteland.

“Ek het in Malmesbury aanvanklik in die Coetzee’s se gastehuis gebly en saam met die Coetzee-manne begin fietsry. Soggens het ek hul buurman Kobus Duminy gesien wanneer hy gaan fietsry. Ek wou baie graag saam met hom oefen – ek moes myself opwerk om moed te skep om hom te vra!” Duminy het ingestem, en sedert die 2019-winter het gereelde fietsry deel van Christopher se lewe geword. Uiteindelik was dit ’n belangrike deel van die rehabilitasieproses vir sy knie.

“Intussen het ek ander fietsryers leer ken, soos Wilhelm (Pompies) van Niekerk en Wynand Hofmeyr. Ek het Jessika Janse van Rensburg (voorheen Steyn) by die munisipale swembad ontmoet en saam met haar begin swem. In die winter het ek in die Swartland-swemklub se binnenshuise swembad geswem en ook Daniel Malan, die Boland-tweekampatleet, ontmoet en saam met hom begin draf.”

“Ons monitor heeltyd die knie. ’n Ortopeed het gehelp met ’n beskermende kniestut en noudat die driekamp-gogga byt, bid ons dat die Here my knie sal beskerm.”

Christopher se eerste ernstige driekampkompetisie was die 2020 WP-byeenkoms in Langebaan. Met sy tweede WP-kampioenskap in 2021 was hy vierde in sy ouderdomsgroep en het vir deelname aan die SA byeenkoms gekwalifiseer. “Ek was nogal trots daarop, om dit reg te kry.

“Driekamp is moeilik, want jy doen dit alleen. ’n Mens moet die hele tyd energie in jouself vind; die geveg is in jou kop.”

Intussen was hy in ander lekker byeenkomste, soos Hermanus se Walker Bay Xtreme Festival met ses uitdagings oor vier dae – swem in die see, draf en bergroetes ry oor berge en dale. ’n Ander gunsteling is die geldinsamelingswem vir behoeftige kinders van Robbeneiland na Bloubergstrand. Christopher is deesdae ’n influencer vir sommige ekstreme byeenkomste en skryf fiksheidsprogramme vir atlete: “Dit help my met geld, want driekamp raak vinnig ’n duur saak!”

Vanjaar het Christopher vierde in sy ouderdomsgroep by die SA byeenkoms geëindig. “Gewoonlik gaan die eerste drie atlete van elke afdeling na die wêreldbyeenkoms – toe hoor ek onlangs iemand het onttrek, so ek kan in sy plek gaan.”

Hierdie Abu Dhabi-kampioenskap is ’n groot eer, maar bring ander uitdagings: “Ek moes myself binne ’n kort tydjie topfiks kry, my tweede M-verhandeling klaarmaak en geld insamel. Ons kry geen staatshulp nie, al verteenwoordig ons Suid-Afrika.”

Christopher neem in die 1 500m swem, 40 km fietsry en 10 km draf deel. “Ek oefen sedert 2020 ál harder, konsentreer daarop om tegnies te verbeter om korter tye aan die oorgang tussen swem, fietsry en draf te bestee.”

Christopher se vroegoggend-oefeninge sluit soms “mini-ystermansessies” in wanneer hy saam met Leon en Jessika Janse van Rensburg eers 1 500m swem en 28 km fietsry voordat hulle Malmesbury se 5 km-parkrun hardloop.

Intussen doen hy aansoek vir werk wat by sy tweede M-studie in Stedelike Ontwerp (Urban Design) pas. “Dit neig meer na argitektuur; ons land bied min werksmoontlikhede hiervoor. My werksaansoeke neig dus buiteland toe.”

Hoe kry een mens dit reg om binne vyf jaar twee M-grade te verwerf, jou afgeskryfde knie suksesvol te rehabiliteer én SA kleure vir ’n splinternuwe sportsoort te verwerf?

Christopher gee ’n sagte laggie. “Ek weet nie of dit
impressive
of dom is nie. Sakkie Rumboll het my baie tegemoetgekom; die munisipale swembad is ’n reuse-bate vir Malmesbury en ek het altyd minstens 40 bevrore geregte in my vrieskas om tyd te spaar en gesond te eet. Die
coolste
ding is hoe Malmesbury se mense my ingetrek en ondersteun het. Hier het ek net opnuut gesien hoe sport regdeur grense breek – dit bring mense van elke taal, kleur en ouderdom bymekaar.”
.
Omdat Christopher eers onlangs gehoor het hy kan aan die Wêreldbyeenkoms deelneem en self geld daarvoor moet insamel, verkoop hy pette met ’n “flipside”-logo daarop wat hy self ontwerp het. Mense wat hom wil ondersteun kan hom by 071 523 6186 op WhatsApp kontak. Pette kos R240 elk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article