Die Swartland Recycling Heroes-projek is in Julie vanjaar in Malmesbury van stapel gestuur – ’n projek waarby vyf Malmesbury-skole ingespring en herwinbare items versamel het met die oog daarop om ’n vet prys vir hul skool te wen.

Swartland Recycling Heroes is begin nadat Petri Bosch, die eienaar van Bosch Services, besef het watter belangrike taak op volwassenes se skouers rus: “Ons moet die jeug bewus maak van herwinning, hulle wys hoe maklik dit gedoen kan word en bewys hoe goed ons gemeenskap kan saamstaan,” sê Bosch, wat sedert 2020 belangrike herwinnings- en skoonmaakdienste in Malmesbury lewer.

“Skoolleerders is die toekoms van ons dorp en land; hulle moet van jongs af opgewonde wees oor herwinning.”

Die kompetisie het skole uitgedaag om soveel as moontlik herwinbare glas-, papier- en plastiekprodukte tussen Julie en Oktober in te samel.

Die vyf Malmesbury-skole wat meegeding het, was CPM (Christelike Privaatskool Malmesbury), St. Thomas Primêr, Naphakade Primêr, Liebenberg Primêr asook die Hoërskool Swartland.

Die wenskole is pas aangewys, met CPM as wenner en St. Thomas Primêr in die tweede plek. Die skole het mekaar behoorlik die stryd aangesê, maar uiteindelik het CPM R10 000 vir hul skool ontvang, en St. Thomas Primêr R5 000.

“Die vyf skole het ’n allemintige 22 560 kg herwinbare items ingesamel. Dis ’n astronomiese klomp glas, plastiek en papierprodukte,” sê Bosch.

“Sommige skole het selfs ondernemings in die dorp genader om te help herwin sodat dit vir hul skool kan tel. Ons sê dankie vir elkeen – elke huishouding, sakeonderneming en skool – vir jul harde werk hiermee; dit het al ons verwagtinge oortref.”

Om die wenskool aan te wys, het Bosch op ’n verhoudingskaal vir die aantal leerders in elke skool gebruik om die veld gelyk te maak vir die deelnemende skole.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article