Groot histerie het verlede week onder ouers en lede van die gemeenskap in Ilingelethu uitgebreek nadat onheilspellende gebeure by ’n plaaslike skool in die omgewing van Malmesbury voorgekom het.
Ouers het hulle gedurende die eerste voorval verlede Dinsdag na die skool, Naphakade Primêre Skool in Holomisastraat, gehaas om hul kinders te gaan haal nadat gerugte vinnig die ronde onder dié gemeenskap én op sosiale media gedoen dat “bose geeste” glo by die skool teenwoordig was.
Unathi Booi, assistent-direkteur van kommunikasie by die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD), het kort ná die voorval bevestig dat sommige leerders glo geestelike roepings of voorvaderlike waarnemings ervaar het.
Die gebeure het tydens ’n saalbyeenkoms plaasgevind.
Ouers van die leerders is ook gebel om die spesifieke kinders wat glo vreemd begin optree het, te kom afhaal. “Terwyl na die geaffekteerde leerders omgesien is, het nóg leerders glo geestelike roepings of waarnemings begin ervaar. Ongelukkig het gerugte vinnig deur die plaaslike gemeenskap versprei, wat paniek onder ouers gesaai het,” het Booi verduidelik.
Volgens die departement het die skool en sy leerders sielkundige en maatskaplike bystand en ondersteuning deur die Weskus-distrikskantoor ontvang. “Geaffekteerde leerders wat per ambulans na die hospitaal geneem is vir verdere observasie, is reeds almal ontslaan en terug by die skool. Niemand is in die gebeure beseer nie,” het Booi bevestig.
Sommige leerders kon volgens ooggetuies glo nie praat of beweeg nie en het ook vreemd opgetree.
In nog ’n wending het groter chaos weer kort daarna, Donderdag, uitgebreek toe leerders weer glo met geestelike waarnemings en geeste met hul aankoms gekonfronteer is.
Luidens nuwe gerugte volgens sommige ouers, was daar glo bloed op leerders se hande gewaar, asook slange. Die leerders is glo nou te bang om na die skool terug te keer. Verdere gerugte dat okkultiese bedrywighede by die skool plaasgevind het, word ook vermoed.
Die departement het verder bevestig dat dié voorval glad nie aan die gebeure by ’n hoërskool op Vredenburg, waar okkultiese speletjies glo deur leerders gespeel is, verbind is nie.
Die skool vermoed in hierdie stadium geen betrokkenheid van dwelms nie.
Die plaaslike polisie, wat na die toneel ontbied is, het teen druktyd nog nie op enige navrae reageer nie.

